Ontploffing by Pta-steengroef: Ondersoek duur voort

Paramedici op die toneel by die steengroef. Foto: Emer-G-Med

Paramedici op die toneel by die steengroef. Foto: Emer-G-Med

Die bestuurspan van AfriSam het Vrydag met lede van die gemeenskap en beseerde besoekers vergader ná ʼn ontploffing by ʼn oop steengroef in Pretoria skeefgeloop het.

Maroela Media het vroeër berig 17 mense, waaronder skoolkinders, is Donderdag beseer toe ʼn beheerde ontploffing skeefgeloop het.

“Ons Ferro-bedrywigheid is deel van die gemeenskap en dis vir ons baie belangrik om positiewe verhoudings met die gemeenskap te behou,” het Glenn Johnson, nasionale bedryfsbestuurder, tydens die vergadering gesê.

Die bestuurspan het op vrae en kommernisse van die gemeenskap reageer.

Vyftien van die beseerdes is reeds teen Donderdagaand ontslaan. Twee is steeds in die hospitaal in ʼn stabiele toestand vir behandeling en waarneming.

“AfriSam het seker gemaak dat al die beseerdes die beste moontlike mediese behandeling ontvang en het maatreëls in plek gestel om seker te maak dat die beseerdes steeds mediese behandeling sal ontvang waar nodig,” het Johnson bygevoeg. “Dit sluit vervoer na afsprake by die dokter en om medisyne af te haal, in.”

Paramedici van Netcare 911 en Emer-G-Med is Donderdag omstreeks 15:00 na die sementvervaardiger se Ferro-aanleg in Derdepoort ontbied toe toeskouers wat die steengroef besoek het, deur vlieënde klippe getref is.

Die toeskouers was deel van ʼn opedag wat dien as loopbaanopleiding vir kinders.

AfriSam het ook traumaberading vir die beseerdes en hul families, en werknemers van AfriSam, gereël.

Maxine Nel, AfriSam se hoof van korporatiewe kommunikasie, het vroeër aan Maroela Media verduidelik die gereelde opedae sluit ʼn toer van die aanleg in, wat ook ʼn demonstrasie van ʼn ontploffing behels. “Ons neem toergroepe na ʼn veilige gebied waar hulle op ʼn afstand na die beheerde ontploffing kan kyk. Iets het egter met die ontploffing foutgeloop wat veroorsaak het dat die klippe verder as beplan opgeskiet is.”

Johnson het bevestig die oorsaak van die ongeluk word ondersoek en die maatskappy bied sy volle samewerking aan die betrokke owerhede.

“Veiligheid is vir ons ʼn hoë prioriteit en ons beskou die veiligheid van ons personeel, kontrakteurs en die publiek in ʼn baie ernstige lig,” het Johnson benadruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.