‘Ontploffing’ by raffinadery skud huise

Lede van Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste op die toneel by die Milnerton-raffinadery. (Foto: @Abramjee/Twitter)

ʼn Beweerde ontploffing in die vroeë oggendure by Astron Energy se Milnerton-raffinadery in Kaapstad het glo tot gevolg gehad dat huise in die onmiddellike omgewing geskud is.

Astron Energy het bevestig daar was omstreeks 04:00 ʼn “voorval” by sy Milnerton-raffinadery.

“Ons noodreaksieprosedures is onmiddellik geaktiveer en die betrokke owerhede is in kennis gestel. Die gevolglike brand is onder bedwang gebring en alle bedrywighede by die aanleg is opgeskort,” het die maatskappy in ʼn kort verklaring gesê.

Jermaine Carelse, woordvoerder van Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, het bevestig hulle is op die toneel, maar het alle verdere navrae na Astron Energy verwys.

Volgens berigte is daar moontlik lewensverlies en beserings aangemeld. Twitter-gebruikers wat in die omgewing van die raffinadery woon, het gesê hulle is net na 04:00 wakker geruk deur ʼn ontploffing en hul huise wat skud.

ʼn Woordvoerder van die maatskappy kon egter nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie en Maroela Media wag vir terugvoer op skriftelike navrae.

Astron Energy het in die verklaring gesê sy prioriteit is om die veiligheid te verseker van almal op die toneel en dat hy later meer besonderhede bekend sal maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.