‘Ontploffing’ van ondersteuning vir ‘Kokkedoor’-koskenner

Le Roux van Vuuren voor die operasie saam met sy seun, CJ, en dogter, Ella. Foto: Verskaf

Ondersteuning vir die koskenner Le Roux van Vuuren van Kokkedoor-faam stroom in nadat ʼn sakevrou van Langebaan aan die Weskus haar beywer het om Van Vuuren te help nadat hy in ʼn ernstige motorongeluk beseer is.

Judith Breytenbach, ʼn boetiekeienaar in Langebaan, het Donderdagoggend aan Maroela Media vertel dat sy graag wou help aangesien Le Roux op pad was na dié Weskusse dorpie om daar melkterte te bak toe die ongeluk plaasgevind het.

Van Vuuren het ʼn paar maande gelede met ʼn projek begin om sy hoërskoolseun, CJ (15), saam met ʼn groep van altesaam 30 leerders na Nieu-Seeland te stuur vir ʼn oorsese rugbytoer. Hy het begin melkterte bak om sodoende geld vir die oorsese toer in te samel.

Breytenbach vertel dat sy Van Vuuren voorheen glad nie persoonlik geken het nie, maar deur die Kokkedoor-program wel geweet het wie hy is. Sy verduidelik dat die plaaslike gemeenskap baie opgewonde was oor Van Vuuren se besoek, maar toe die slegte nuus ontvang het dat hy in ʼn motorongeluk was.

Van Vuuren het in die ongeluk sy pelvis gebreek en talle snye aan sy gesig en skaafplekke oor sy lyf opgedoen. Hy word tans in ʼn staatshospitaal in Worcester behandel.

Die nuus van die ongeluk het by Breytenbach bly spook, waarna sy verlede week besluit het om “ʼn eenvoudige plasing” op Facebook te doen in die hoop om Van Vuuren in sy geldinsameling by te staan – min wetend watter reaksie dié plasing sou ontlok.

Breytenbach beskryf dit as ʼn “ontploffing” van ondersteuning. Die plasing is teen die volgende oggend oor die duisend keer op Facebook gedeel. Vyf dae later is R50 000 reeds ingesamel en skenkings stroom steeds in. ʼn Week later het dié geldinsameling byna ʼn voltydse werk begin word, vertel Breytenbach.

Foto: Facebook

Sy is verstom oor die ondersteuning, aangesien skenkings ook vanuit die buiteland kom. Ondersteuning van Engeland, Australië en Nieu-Seeland het haar intussen genoodsaak om ʼn backabuddy-fonds te stig sodat skenkings in enige geldeenheid gemaak kan word.

Die groot vraag was wat om nou met die geld te doen aangesien die skenkings reeds CJ se toergeld gedek het. Daarom het Breytenbach besluit om enkele dae gelede ʼn tweede plasing op Facebook te doen.

Sy vra dat mense nou na die groter prentjie kyk, aangesien van Vuuren vir ʼn ruk ná die ongeluk nie sal kan werk nie. Haar wens is dat Van Vuuren genoeg tyd sal hê om behoorlik te herstel met die gemoedsrus dat sy kinders finansieel versorg word met behulp van die geld wat ingesamel word. “Kom ons gee Le Roux kans om weer op sy voete te kom,” sê sy.

Sy verduidelik dat die fonds vir nog ʼn rukkie bestuur sal word. “Die proses is heeltemal deursigtig en wettig. Dit is absoluut te danke aan die goedhartigheid van mense om die Van Vuuren-gesin te help.”

Sy glo dis die minste wat sy van haar kant af kan doen nadat Van Vuuren so hard gewerk het om geld vir sy seun in te samel.

Breytenbach het steeds nie Van Vuuren persoonlik ontmoet nie en kommunikeer tans deur middel van WhatsApp nadat Van Vuuren ná die fonds se R11 000-merk met haar kontak gemaak het om dankie te sê.

Sy skerts dat sy vir eers verkies dat hulle telefonies kommunikeer aangesien sy te veel sal huil as sy persoonlik met hom moet gesels. Sy is wel van plan om Van Vuuren in Worcester te verras wanneer hy weer by die huis en op die been is.

“Nou probeer ek eers net die goedheid van mense verwerk.”

Volgens Breytenbach word die meeste skenkings anoniem gedoen, maar dit is duidelik dat die grootste hoeveelheid ondersteuning van die plaaslike gemeenskap kom. Sy vertel dat dit hulle is wat die eerste plasing aanvanklik gesien en gedeel het.

“Van Vuuren is ʼn legende in die Weskus en Weskusmense sal jou nooit teleurstel nie. Dit is hoe die Weskus werk – hier praat ons van Weskusliefde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hannelie ·

Wow dis amazing! So dankbaar vir Judith wat soveel goedheid in haar hart het. Ons bid nogsteeds vir hom vir volkome herstel. Sterkte.

Gesiggie ·

Mev Breytenbach… SA het meer mense soos jy nodig.. well done en baie dankie dat jy jou hart oopgemaak het om te help sodat Mnr Le Roux gerus kan wees, als is ok en dat hy kan rus en herstel… en dat dit nogsteeds vir sy seun sal moontlik wees om die toer te kan bywoon. Ek haal my hoed af vir die Pa wat als sal doen vir sy kind, dit is so jammer vir sie ongeluk,maar die Here sien jul goeie dade raak en jul sal jul Blessings ontvang. Sterkte en weereens Well Done vir wat jy gedoen het.

Sooo mooi storie ·

Met sooo hart, wat kan nou verkeerd loop. Dit is maar net weereens n bewys, as jy goedheid saai, sal daar goeie vrugte kom, le Roux. Aan Breytenbach, jy het die regte hart – dit is ‘n spesiale persoon wat die stap neem wat almal wil, maar nie deurvoer nie. Aan almal wat skenk, jul gee hoop in die tyd wat ons is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.