Ontslaan ná 40 dae op suurstof weens Covid-19

Eindelik op pad huis toe. Catherine Qonyiweyo is na meer as twee maande weens Covid-19 uit die hospitaal ontslaan. (Foto: Groote Schuur-hospitaal)

Trane vloei dikwels vryelik vir die talle pasiënte wat die afgelope paar maande by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad weens Covid-19 dood is. Die afgelope naweek was daar egter trane van vreugde nadat Catherine Qonyiweyo (53) ná 63 dae in die hospitaal eindelik ontslaan is.

Die 53-jarige Qonyiweyo, of “Aunty Cathy” soos sy onder die hospitaal se personeel bekend staan, was 40 dae lank aan ʼn hoëvloei-suurstofmasjien gekoppel, die langste wat enige pasiënt daar nog van die masjien afhanklik was.

Die ma van drie van Philippi is op 19 Junie van die Mitchells Plain-hospitaal na Groote Schuur oorgeplaas.

Haar gesin het haar eers na die Philippi-kliniek geneem nadat sy simptome van Covid-19 begin ondervind het. Qonyiweyo sê sy het aanvanklik koud en moeg gevoel. Sy het geen eetlus gehad nie omdat alles smaakloos was en ʼn eenvoudige taak soos om te stap het skielik moeilik geword.

Qonyiweyo, wat as skoonmaker werk, sê benewens die feit dat sy nie haar geliefdes kon sien nie – ook haar vier kleinkinders wat sy “vreeslik gemis het” – het sy dit ook gemis om in haar eie huis te werskaf.

Sy kon die hospitaalwerkers en verpleegpersoneel nie genoeg bedank nie vir haar versorging tydens haar 63 dae lange hospitaalverblyf.

“Om 40 dae lank behandeling te ontvang was nie maklik nie. Ek het op my maag gelê en kon eintlik net pap eet, maar die personeel was altyd beskikbaar om my te versorg,” het Qonyiweyo gesê.

“Hulle was almal wonderlik en ek waardeer elkeen. My wens is dat God hulle die krag gee om hul pligte te doen en ʼn verskil te maak.”

Dr. Gordon Andley, een van die Groote Schuur-dokters wat Qonyiweyo behandel het, sê sy was ʼn ware inspirasie vir die personeel. Haar vasbeslotenheid om Covid-19 te verslaan het uiteindelik ook vrugte afgewerp.

“Haar veerkragtigheid was opvallend. Sy was altyd positief en wou vorentoe gaan en vordering maak.

“Sy was blootgestel aan baie siek pasiënte in die saal, selfs pasiënte wat gesterf het, maar sy wou net gesond word,” het Andley gesê.

Qonyiweyo se familie is nie toegelaat om haar in die hospitaal te besoek nie en daar was groot opgewondheid toe hulle eindelik weer herenig is.

Sy sê haar geloof in God is selfs groter nadat sy van die virus, wat talle ander mense se lewe geëis het, herstel het.

“As daar een ding is wat die lewe my geleer het, is dit dat God waarlik bestaan en dat Hy my geloof in Hom getoets het.

“Ek is trots om te sê dat my geloof nou selfs sterker as tevore is,” het Qonyiweyo gesê.

Die eerste saak op haar dinge-om-te-doen-lysie is om ʼn umcimbi – ʼn tradisionele Xhosa-viering – by haar huis te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chantz

GOD is Amazing!!