Ontslaan ‘om te gaan sterf’

(Foto: Facebook)

Die eienaar van Uncle Ben’s Den in die weste van Pretoria sê sy is diep bekommerd nadat verskeie pasiënte dood is kort nadat hulle volgens haar uit die Pretoria-Wes-hospitaal ontslaan is.

Die tehuis versorg mense wat nie ʼn ander heenkome het nie, of bejaardes wat nie ʼn ouetehuis kan bekostig nie. Ronel van Dyk, eienaar, sê baie van die inwoners word deur dié hospitaal na Uncle Ben’s Den verwys.

Volgens haar is minstens tien mense wat die afgelope twee maande uit die hospitaal ontslaan en by die tehuis ingeneem is, binne enkele dae dood.

Van Dyk sê in een geval is ʼn hawelose vrou dood ʼn dag nadat sy uit die hospitaal ontslaan is. “Sy was geweldig maer en ek het geweet sy gaan dit nie maak nie. Sy was net ʼn geraamte. As jy haar kon sien, sou jy ook vra hoe dit moontlik is dat sy uit die hospitaal ontslaan is,” het Van Dyk die afgelope week gesê.

In nog ʼn geval is ʼn 83-jarige man na die tehuis verwys nadat ʼn dokter by die hospitaal glo bevind het hy is sterk genoeg om ontslaan te word, het Van Dyk gesê. Volgens haar het ʼn portier haar meegedeel dat die lykshuise oorvol is en die man daarom ontslaan word. Van Dyk het gesê hy is twee dae later dood.

“My probleem is dat alle probleme nie Covid-19-verwant is nie. As jy by die hospitaal kom en hulle doen ʼn siftingstoets en stel vas jy het nie Covid-19 nie of is nie baie ernstig beseer nie, help hulle jou nie,” het Van Dyk gesê.

“Ek is nie ʼn verpleegster of ʼn dokter nie, maar uit jare lange ondervinding kan jy sien wie is te swak om te oorleef [wanneer hulle ontslaan word]. Die dokters en verpleegster wat daagliks hiermee werk, moet dit mos ook kan sien?”

Talle van die tehuisinwoners se familie kan nie opgespoor word nie en Van Dyk sê Uncle Ben’s Den dra self die onkoste om mense behoorlik te laat begrawe of te laat veras.

Sy sê die talle sterftes is uiters traumaties, ook vir ander inwoners van die tehuis. Uncle Ben’s Den huisves 145 inwoners en versorg hulle sonder enige staatshulp.

“Ons bid baie. Ons maak op ons geloof staat en ondanks die afsonderingsmaatreëls gaan dit steeds goed met ons. Ons vat dit dag vir dag.”

Van Dyk sê sedert 19 Maart, nadat die aanvanklike afsonderingstydperk ingestel is, is geen nuwe inwoners, benewens die mense wat deur hospitale daarheen verwys is, ingeneem nie. “Hulle het nie lank gelewe nie. Dit was verskriklik,” het sy gesê.

Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, het in reaksie gesê dit is nie bekend hoe lank ná ontslag die pasiënte (na wie Van Dyk verwys) dood is nie. Volgens haar is dit ook onduidelik of die sentrum die pasiënte na die hospitaal probeer terugneem het.

“Die hospitaal ontslaan nie pasiënte wat ongesteld is nie, maar probeer eerder hul naasbestaandes opspoor as die prognose baie sleg is. Ons het dit inderdaad ook vir een van Uncle Ben’s [Den] se pasiënte gedoen. Ons het na die familie gesoek en die dogter kon haar ma besoek,” het Kekana gesê.

“Sy was uiters dankbaar omdat sy, volgens haar, nie toegelaat is om haar ma sedert die aanvang van die afsonderingstydperk te besoek nie. Uncle Ben’s [Den] het oënskynlik geen besoekers by sy bejaarde pasiënte toegelaat nie.”

Kekana het gesê die departement versorg sonder versuim pasiënte, ook dié wat in die tehuis woon, en dat daar in hierdie stadium voldoende beddens by die Pretoria-Wes-hospitaal vir pasiënte met Covid-19, asook enige ander pasiënte is. Volgens haar word pasiënte wat nié Covid-19-verwante siektes het nie teen moontlike infeksie beskerm en behoorlik versorg.

Sy het gesê pasiënte wat wél positief vir Covid-19 toets, word na die Steve Biko Akademiese Hospitaal en die Tshwane-distrikshospitaal verwys sodat die Pretoria-Wes-hospitaal meer beddens vir ander pasiënte beskikbaar het. “Dit is presies wat die hospitaal kon doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Misky ·

Hoekom sukkel ek om Kekana te glo? Wonder of sy weet wat werklik daar buite aan die gang is?

Miskruier ·

Wonder of sy weet van die 17 jarige wat op 7 maande swangerskap moes geboorte, aan n dooie baba, gee sonder hulp, dan praat ek nie van die twee vroue wat die bed saam haar gedeel het , ook besig om te kraam.

Fedup ·

One good thing about the start of this virus; is to show us the real human we deal with daily.
Shocking, disturbing and disgusting.

Cherokee ·

Meer as ‘n dekade gelede, was ‘n paar van ons by die bed van my skoonma in ‘n hospitaal in Carletonville. Die dokter het vir my swaer en myself gesê dat sy die volgende dag onslaan sal word, omdat sy gesond genoeg is. My swaer het vir die dokter gesê hy maak ‘n fout. Die pasiënt is besig om te sterf. Die dokter het gesê dan moet sy maar in die hospitaal bly. Vroeg oggend om sowat 3vm het iemand vanaf die hospitaal gebel om te sê dat sy oorlede is. So, onkunde speel ‘n groot rol.

Vanessa ·

Mag God met ons oumensies gaan. Liewe hemel hulle kry swaar. Mag God julle wat ander mense help in oorvloed seën!!!!!! Dank die Here vir mense soos julle.

Racheltjie Debeer ·

Mmmm, dink die staatsamptenaar vir een opmblik ons glo haar storie??? Soos 90% van hulle praat sy ‘n spul bog. Sterkte aan Uncle Ben’s Den met die werk wat julle doen.

Excalibur ·

Waar ‘n Rokie trek Brand ‘n Vuurtjie!!

Pretoria-Wes Hospitaal benodig dalk ‘n deeglike onafhanklike profesionele medies-forensiese ondersoek na alle afsterwes die laaste 3 maande…

Aavullende Voorstel: Maak gebruik van ‘n Burgerlike paneel soortgelyk aan die van die Amerikaanse regstelsel; genoemd die Jurie-raad (betaande uit lojale landsburgers van alle rasse, beroepe, ouderdomme, godsdiens en geslag) , om ‘n onafhanklike Burgeregtelike stafbesoek met ‘n Publieke terugvoerverslag aan die parlement voor te le. Laat dit sommer vir alle Staatsdepatemente geld en daardeur sal ons die regering verantwoordbaar kan hou t.o.v. besteding en aanwending.

Johan ·

Een aspek van die ANC-regering moet ons hulle krediet gee……..hulle mors nie met iemand se mediese fonds of uitgawes nie. Hulle verpleeg jou gou-gou in die graf in!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.