Ontsnapping: Slagoffers leef in vrees

Chris Sithole. Foto: SAPD

Chris Sithole. Foto: SAPD

Die vier gevaarlike verhoorafwagtende verdagtes wat onlangs uit ʼn bewegende polisievoertuig in Noordwes ontsnap het, is steeds op vrye voet. Intussen leef die slagoffers en hul geliefdes in vrees dat hulle weer kan toeslaan.

Die vier mans het op 5 Februarie uit ʼn bewegende polisievangwa, wat verhoorafwagtendes vanaf die Mogwase Sentraal-gevangenis na die Brits-landdroshof in die provinsie Noordwes vervoer het, ontsnap. ʼn Motoris op die N4 het die verdagtes sien ontsnap en die bestuurder dadelik in kennis gestel. Hulle was egter reeds weg toe die polisievoertuig stilgehou het.

Alfonzo Mpofu. Foto: SAPD

Alfonzo Mpofu. Foto: SAPD

Die ontsnaptes is dieselfde dag geëien as Chris Sithole (24), Alfonzo Mpofu (25), Gibson Msimango (25) en Ontse Lebese (27). Sithole, Mpofu en Msimango is almal van Zimbabwe en Lebese is van Ga-Rankuwa in Pretoria.

Sithole en Mpofu, wat tereg staan op aanklagte van moord, roof en verkragting, is glo onder meer saam met die meesterbrein agter die moord op ʼn Pretoriase boer, Hans Huyser (50), in hegtenis geneem. Huyser is op 2 Januarie 2012 doodgeskiet terwyl hy ’n pap band langs die pad omgeruil het. Huyser, sy vrou, kleindogter en susterskind was die dag saam met vriende by Sun City en het die aand teruggery na hul plaas by Onderstepoort in die noorde van Pretoria. Hy is omstreeks middernag op die N4-hoofweg naby Brits drie keer in sy bolyf geskiet terwyl hy die band wou omruil. Die aanvallers het ook gedreig om sy vrou, Cindy, te verkrag, voordat hulle met ʼn selfoon en handsak op vlug geslaan het. Huyser is in sy vrou se arms dood. Sithole en Mpofu is ʼn paar dae ná die moord in hegtenis geneem.

Huyser se dogter, Sarah (24), het Dinsdag aan Maroela Media gesê die nuus dat haar pa se vermeende moordenaars ontsnap het, was net so ’n groot skok soos die dag toe sy moes hoor haar pa is doodgeskiet. “Ons rou en is hartseer. Dis skokkend om meer as ʼn week nadat hulle ontsnap het op Facebook daarvan te lees. Die polisie het ons glad nie eens laat weet nie,” het sy ontstoke gesê. “Dis skrikwekkend om te dink dat Sithole en Mpofu weer daar buite is. My ma is steeds getraumatiseer, haar man met wie sy meer as 30 jaar lank getroud was, lê in die graf en hulle loop vry daar buite los, weer reg om te vermoor en te verkrag. Ons wil weet hoe hulle ontsnap het; ons wil hê geregtigheid moet geskied en dat hulle boet vir hul dade.”

Sy het gesê hulle het alle respek vir die polisie verloor en sy vermoed die ontsnapping was ʼn “inside job”.

Maroela Media het vroeër berig Lebese en Msimango is albei verhoorafwagtend op aanklagte van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die verdagtes was glo betrokke by die aanval op Hannes (77) en Annetjie (74) van der Merwe in Januarie 2015 op hul familieplaas in die De Wildt-omgewing in Noordwes.

Die egpaar is met die vuis, ʼn byl, pistool en afgesaagde haelgeweer asook ʼn stuk pyp geslaan. Die marteling het glo sowat twee uur geduur. Annetjie se heup is tydens die aanval erg beseer en Hannes is met ʼn strykyster gebrand.

Callie van der Merwe, hul seun, het gesê hy is uiters teleurgesteld oor die “nalatigheid” van die polisie. “Dit het baie moeite geverg om die verdagtes in die tronk te kry en ná die ontsnapping voel dit asof dit alles vir niks was.”

Hy sê voorts sy familie is opnuut gespanne en die sielkundige en mediese nagevolge het ʼn groot invloed op sy ouers se lewe gehad. “Ons moes die verdagtes uitken, daarom weet hulle ook hoe ons lyk. Dit is menslik om te vrees dat hulle wraak sal wil neem.”

Van der Merwe sê hy vermoed dat die ontsnapping vooraf beplan en die polisiebeamptes dalk omgekoop is.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die soektog na die vier verdagtes duur onverpoos voort en die polisie volg alle leidrade op wat hulle ontvang. Die polisie het wel vasgestel hoe die ontsnapping plaasgevind het, en doen tans interne stappe. Hy wou egter nie meer oor die ontsnapping uitwei nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Willie ·

n Voertuig moet lekker stadig ry vir iemand om agter uit te spring sonder om homself erg te beseer met die val as gevolg van spoed en die uitspring. jy sien….

Sarah ·

Hoe op aarde kan die bestuurder , wat weet hy het hier gevaarlik krimenele nie agter kom dat hulle ontsnap uit n bewegende voertuig nie ? Hoe !

SAPS JULLE SAL WAKKER MOET WORD EN BEGIN SOEK !!!

Michael ·

Die polisie sal nie verniet interne stappe neem nie. Dit is mos hulle manier in die piesang republiek geen trots of integriteit enigiets vir ‘n paar sent

Smurfie ·

under staff is wat hier moontlik kon gebeur het.. die SAPS lede word nie meer opgehef soos in die verlede nie.. en so ook word talle polisie beamptes vermoor. ek voel dat dit nie net SAPS was wat die fout begaan het nie maar so ook korrektiewe dienste.. waar was die begeleiding vanaf METRO en die res van die stasies. polisie lede kry opdragte en so ook moet mens dit uitvoer ongeag wat die situasie is.

Akram ·

Genugtig. ek sou dink dat die deure tenminste gesluit moes wees. en om uitespring en weg te hardloop, moes die voertuig stadig beweeg het. ek kry die lojale polisie beamptes jammer. daar is nog baie wat die werk reg wil doen. die wat bekwaam is word nou ook onder die selfde kam geskeer, en dit is onregverdig. ek glo dat die polisie hulle sal aankeer, wel ek hoop so. sterkte vir die familie. die eerlike manne in blou, staan sterk.

Voorlaaier ·

Inside job! Alle gevangenes en verhoorafwagtenes moet met voet booie geketting wees wanneer hulle di gronde van di gevangenis verlaat.Hetsy hospitaal,hof of enige ander plek.
Hierdi manne moordenaars! Hoe is dit moontlik dat wanneer hulle hof toe vervoer word daar ni EST manne teenwoordig is nie?!!!!!
Defnitief groot slang in di gras!

jack ·

Die streng veiligheidsmaatreels rondom die vervoer van verhoorafwagtendes is glad nie nagekom nie. Die deur van die vangwa moet van buite af gesluit word met n gedugte slot bo en behalwe dat die deur ook op knip moet wees. Dit is onmoontlik vir enige persoon om die deur van binne of buite oop te maak behalwe met die hulp van n polisieman of korrektiewedienste amptenaar. Die hele storie stink van voor tot agter.

Trolle ·

Dankie dat julle hulle gesigte wys maroela,sal hulle ken as hulle sien.
Enige mens met n verstand kan sien hulle is vrygelaat die pol vang hulle en dan word hulle maar net weer gelos vir omkoop geld.Baie goeie besigheid wat hulle hardloop selfde met die drug lords.

wilma ·

Kom ons soek hulle, dan maak ons met die gespuis en hulle families dieselfde wat hul doen aan ons mense.

Wilma ·

@Wilma ek wens daar was ‘n like knoppie vir jou kommentaar.

Tammy ·

Dit maak gladnie saak wat die omstandighede is rondom die ontsnapping nie. Die polisielede wat betrokke was by die vervoer (verskuif) van die misdadigers moet verantwoordelik gehou word vir hulle SWAK werk. Ek vra dat hulle sommer tronkstraf moet kry en ook hulle werk verloor asseblief. Deesdae word jy mos ge-suspend van jou werk met Volle betaling. Sies vir hierdie slegte werkers julle is n skande vir die hele Polisiediens.

Anoniem ·

Maak gebruik van selfone, ens. Maak ‘n “app” soos “Police File”. Almal het selfone en moderne tegnologie kan doeltreffend gebruik word – die nodige inligting kan so gestuur word. Ons almal kan op die uitkyk wees vir die kriminele.

Hannelie ·

As jy so na hulle fotos kyk…….die gepeupel van Suid-Afrika. Hulle het moord gepleeg….hoekom kan hul dan nie ook die doodstraf kry nie? Hulle het weer mense (oumense) aangerand met die doel om te dood……hoekom kry hul weereens nie die doodstraf nie? Ek verstaan hoekom talle Suid-Afrikaners so negatief teenoor die regering is. Want dit is net so korrup soos die talle misdadigers.

carel smit ·

Kan julle onthou daai manne wat nou die dag in die hof was omdat hulle op die krieket veld gehardloop het.Toe hulle in die hof verskyn het was hulle met voetkettings vas,dit was nie eers vir moord nie.Hier kom die moordenaars hulle is nie eers vas geketting nie,wat se dit vir my,die ander ws wit en die wat nou ontsnap het was swart

Bokram ·

Dit is definitief n inside job,dit was darm net te maklik om te ontsnap,die polisieman kon mos gevoel het aan die bakkie dat hulle agter besig was om uit te klim en die deur was nie eens gesluit nie,dit maak net nie sin nie

Oom Boer ·

Ek ruik ‘n rot (I smell a Rat), hier steek meer in om verdere misdaad te gaan pleeg, want hul is mos alreeds as misdadigers aangewys.

Veritas ·

Die bestuurder van die polisievoertuig staan ‘n goeie kans om die volgende nasionale kommisaris te word. Ek hoor kort-kort van die sogenaamde ‘Goeie’ polisiemanne en -vroue. Sover dit my aangaan bestaan daar nie soiets nie. Hulle is voor die voet onbetroubaar.

shere ·

Ag asseblief mens kan mos duidelik sien die waarheid word net eenvoudig weggesteek, die SAPS is die grootste krimenele!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.