Een van die drie verhoorafwagtende gevangenes wat Maandag uit die polisie se aanhoudingselle in Limpopo ontsnap het, is deur die polisie doodgeskiet.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die taakspan het inligting opgevolg rakende die bewegings van die ontsnaptes en hulle by twee verskillende liggings opgespoor.
“Toe Simon Mokone (23) sien hy word in ʼn hoek gedryf, het hy op die polisie begin skiet. Die beamptes het teruggeskiet en Mokone is in die proses doodgeskiet,” het Ngoepe gesê.
Een van die ander verdagtes, Zandile Emmanuel Lebambo (31), is volgens Ngoepe in die been geskiet en gewond terwyl hy inhegtenisneming probeer vryspring het nadat hy glo aangetref is waar hy rituele uitgevoer het.
Lebambo is volgens Ngoepe by ʼn plaaslike hospitaal behandel en ontslaan. “Hy sal binnekort in die Praktiseer-landdroshof verskyn op aanklag van ontsnapping uit aanhouding. Tumelo Vincent Kgoedi is steeds soek.”
Maroela Media het vroeër berig die drie verdagtes het Maandag uit die Tubatse-polisiestasie buite Burgersfort se aanhoudingselle ontsnap.
“Polisiebeamptes het omstreeks 06:30 ʼn harde geluid by die selle se deur gehoor en vinnig reageer,” het Ngoepe vroeër gesê. “Drie gevangenes het egter reeds deur die dak van die oefenkamer ontsnap.”
Lebambo is oorspronklik in hegtenis geneem op aanklag van verkragting, huisbraak, diefstal en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Mokone is in hegtenis geneem op aanklag van roof met verswarende omstandighede, die besit van ʼn vuurwapen sonder ʼn lisensie en die besit van gesteelde goedere. Kgoedi is in hegtenis geneem op aanklag van moord en poging tot moord.
Enigiemand met inligting wat kan lei tot die herinhegtenisneming van Kgoedi kan brig. Lucas Tlhako by 082 565 7584 nader.
Hierdie berig is belangrik. Kan MM dalk meer uitvind oor die slagoffers van hierdie mense ? Was dit plaasmoorde gewees ? Huisbraak is mos die nuwe woord vir plaas aanval