Ontsnapte gevangenes het beamptes oorval

Argieffoto Foto: veooz.com

Volgens die departement van korrektiewe dienste is korrektiewe beamptes Vrydagmiddag tydens gevangenes se oefening by ʼn fasiliteit in Malmesbury in die Wes-Kaap oorval waarna 69 verhoorafwagtende gevangenes uit aanhouding ontsnap het.

Delekile Klaas, die departement van korrektiewe dienste se kommissaris in die Wes-Kaap, het Vrydag vroegaand in ’n verklaring gesê 61 van die ontsnapte gevangenes is intussen weer aangekeer. Altesaam agt gevangenes is in dié stadium egter nog op vrye voet.

Volgens Klaas het die voorval omstreeks 12:15 by die Malmesbury-gevangenis plaasgevind. Dié korrektiewe sentrum het ten tyde van die voorval 451 gevangenes gehad met 20 korrektiewe beamptes aan diens.

“Die ontsnaptes het die beamptes [tydens oefening by die fasiliteit] oorval, die sleutels gevat, drie beamptes in ʼn sel toegesluit en ander selle oopgesluit voordat hulle deur die hoofingang en deur die dak ontsnap het.”

Volgens Klaas het nege korrektiewe beamptes ligte beserings en kneusplekke in die voorval opgedoen.

“Die departement veroordeel die roekelose optrede deur die gevangenes en sal seker maak dat hulle die gevolge van hul dade dra,” het Klaas gesê.

Luidens die verklaring is die situasie by die betrokke fasiliteit intussen onder beheer gebring met sommige gevangenes wat moeilik was wat na maksimum-sekuriteitfasiliteite in die omgewing oorgeplaas is.

Die Malmesbury-gevangenis is tans onder streng afsondering geplaas om stabiliteit in die fasiliteit te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan ·

Die polisie was besig met belangriker take – om vreedsame, wetsgehoorsame betogers vir die restaurantbedryf met geweld te “beheer”

Hennie ·

Waar kom die mannekrag vandaan om 65 gevangenis weer aan te keer sommer so in ‘n japtrap? Maar daar is nie genoeg poliesmanne om landelike veiligheid te verseker nie. Malmesbury is dan geleë in die platteland!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.