Ontsnapte krokodille keer sélf terug ná vloede

Die krokodilplaas Crocodile Creek is reg langs die snelweg geleë. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Agt van die krokodille wat tydens die onlangse vloede in KwaZulu-Natal by ’n krokodilplaas aan die Noordkus ontsnap het, het self weer hul pad terug “huis toe” gevind.

Die bekende krokodilplaas Crocodile Creek naby Tongaat kon sedert verlede maand se oorstromings weer 29 van hul krokodille opspoor en vang, nadat ’n verstopte stormwaterdrein veroorsaak het dat dié diere in die nabygeleë Tongaatrivier beland het.

Verskeie van dié reptiele het in die bosse naby die plaas beland, terwyl ander op ’n strand en selfs by die luukse Zimbali-landgoed opgeëindig het.

Dit is steeds nie duidelik hoeveel krokodille nog soek is nie, maar verskeie lokvalle is onder meer langs die Tongaatrivier uitgesit om soveel moontlik te probeer vang, vertel Sean Le Clus, plaasbestuurder by Crocodile Creek.

Sean Le Clus, plaasbestuurder by Crocodile Creek. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Altesame 37 van die ontsnapte krokodille is reeds terug in hulle kamp. Dit sluit in dié wat op hul eie teruggekeer het.

“Agt van hulle het op vier verskillende geleenthede oor die laaste drie weke self huis toe geloop en ons kon net die hekke vir hulle oopmaak.”

Maroela Media moes met ’n besoek aan Crocodile Creek ’n ompad tot by die plaas – wat feitlik reg langs die N2 snelweg geleë is – ry, aangesien die brug op die M4-hoofpad tussen Ballito en Umhlanga tydens die vloede beskadig is. Die vloedwater het ook skade aan die R102 aangerig.

Volgens Le Clus het ’n kamp, wat 500 krokodille by Crocodile Creek huisves, die ergste deurgeloop weens oorstromings. Stormwaterdreine aan die ander kant van die snelweg, wat nie behoorlik skoongemaak word nie, het veroorsaak dat vullis en vloedwater opbou en ʼn 30 meter lange muur reg langs die snelweg is tot ses meter in die krododilkamp meegesleur.

Talle ander heinings is óók meegesleur en die skade beloop na raming tienduisende rande.

Van die skade wat die vloede aan Crocodile Creek aangerig het. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die plaas se bestuur spook die afgelope drie weke daagliks om ontsnapte krokodille bymekaar te maak en skade aan die plaas te herstel. ’n Laaigraaf was juis in die agtergrond doenig waar Le Clus tussen die krokodille met Maroela Media staan en gesels het.

“Ons gaan elke aand omstreeks 17:00 uit na die lokvalle met die hoop dat ons nog ’n krokodil aangekeer het. Hulle kom maar stuk-stuk aan. Dis egter winter, wat beteken dat hulle nie nou eet nie en daarom nie sommer in die lokvalle [waar kos uitgesit word] wil beweeg nie.”

Le Clus gee toe dat die laaste drie weke “’n hengse kopseer” was.

“Daar is baie druk van buite want krokodille is baie gevaarlik. Ons raad vir mense wat ons krokodille gewaar is om die reptiel asseblief te los waar hy is en ons dadelik te laat weet.”

Herstelwerk is onderweg by Crocodile Creek. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Sover Le Clus se kennis strek, het geen krokodille weens die vloede omgekom nie. Een krokodil is wel op sy rug met sy kop in die water aangetref nadat hy weens die vloedwater reg agteroor geslaan en tussen twee klippe vasgekeer is.

Daar is aanvanklik vermoed dat die krokodil gevrek het, maar hy is lewend in die kamp geplaas en het sedertdien ten volle herstel.

Crocodile Creek het in 1984 ook groot vloedskade beleef. Die skade was egter nie naastenby so erg soos vanjaar nie.

“Dit gaan ons waarskynlik ’n hele paar jaar neem om weer op ons voete te kom ná die verliese weens Covid-19 en nou die vloede,” vertel Le Clus.

Klik hier om meer te wete te kom oor Crocodile Creek.

Die krokodilplaas is reg langs die snelweg geleë. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Herstelwerk is onderweg by Crocodile Creek. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

‘n Ontwortelde boom by Crocodile Creek ná die vloede. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Van die krokodille by Crocodile Creek. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Van die krokodille by Crocodile Creek. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.