Ontsnapte leeu naby Ulundi gewaar

Skermgreep uit die video op Twitter.

’n Leeu is vandeesweek buite Ulundi in die omgewing van die Hluhluwe‑iMfolozi Park (HiP) in KwaZulu-Natal gewaar.

Musa Mntambo, woordvoerder van Ezemvelo KZN Wildlife, sê nou dit is moontlik dat daar verlede maand meer as twee leeus by HiP ontsnap het toe gemeenskapslede na bewering dele van die wildreservaat se heinings verwyder het.

Dié moontlikheid word tans ondersoek terwyl daar onverpoos na die rondloperleeu gesoek word.

Dié mannetjiesleeu is Woensdagoggend langs die P700 buite Ulundi in die noorde van KwaZulu-Natal gewaar.

’n Video van dié leeu het sedertdien die lig gesien. Daar kan in die video gesien word hoe dié dier rustig teen ’n steilte langs ’n besige pad stap.

Mntambo het Vrydag aan Maroela Media gesê daar word in dié stadium nog na dié dier gesoek. Lede van die publiek word intussen versoek om die HiP in te lig as hulle die dier gewaar.

Hulle word egter ook versoek om nié die dier te nader óf van kant te maak nie.

Maroela Media het vroeër berig verskeie diere, waaronder leeus en renosters, het die afgelope ses weke uit die HiP-wildreservaat ontsnap.

Die departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake het vandeesweek ondersoek ingestel na die ontsnappings by die HiP en vasgestel dat die diere moontlik ontsnap het omdat inwoners rondom die reservaat dele van die heinings verwyder het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.