Ontsnapte leeus nie ‘bekende wildtuintrop nie’

Leeuwelpies by ‘n wildreservaat aangrensend tot die Krugerwildtuin (12 April 2019) (Foto: REUTERS/Siphiwe Sibeko/ANA)

SANParke het gesê 14 leeus wat vermoedelik Donderdag uit die Krugerwildtuin ontsnap het, is nie ʼn bekende trop van die wildtuin nie.

Maroela Media het vroeër berig inwoners van Phalaborwa is gewaarsku om op hul hoede te wees ná die leeus ontsnap het.

“Die trop leeus wat in die myngebied buite Phalaborwa opgemerk is, is nie ʼn bekende trop van die Krugerwildtuin of die aangrensende privaat natuurreservate nie,” het Marisa Coetzee, algemene bestuurder van die Krugerwildtuin, in ʼn verklaring gesê.

“Die trop bly na bewering al langer as ʼn jaar binne die Foskor Phalaborwa-myn en aangrensende gebied, en beweeg al langs die Selatirivierstelsel. Dié gebied val buite die wildtuin, maar is aangrensend met die wildtuin en olifante, buffels en ander diere is ook in die gebied.

Coetzee het gesê dit is moontlik dat die trop hom in die gebied gevestig het, weens die huidige beskikbaarheid van prooi in die gebied en ʼn gebrek aan kompetisie van ander troppe leeus. “Die leeubevolking in die Groter Kruger-gebied is gesond en die getalle is besig om toe te neem waar die troppe ʼn geskikte habitat gevind het.”

Sy sê dit sal dus nie raadsaam wees om ʼn trop leeus te skuif na ʼn gebied waar ʼn trop leeus reeds bly nie. “Die siektestatus van diere moet ook in ag geneem word wanneer nuwe vrylatingsgebiede oorweeg word.”

Tydens ʼn vergadering tussen verskeie partye is daar besluit dat ʼn vangs deur die Limpopo ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme (LEDET) gekoördineer sal word, kragtens die goedgekeurde protokol. LEDET is die betrokke verantwoordelike owerheid oor die saak.

Die plan is om die trop te vang en hulle na ʼn geskikte gebied buite die Krugerwildtuin en privaat reservate te skuif waar hulle deur LEDET gemonitor sal word, aldus SANParke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

M'Lady ·

So die leeus gaan na die GKNP geskuif word, waar hulle gejag kan word. Belaglik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.