Ontsnapte ná week op vrye voet vasgetrek

Tonko Gift Tshehla. Foto: SAPD

ʼn Jong man wat teregstaan op verskeie aanklagte van verkragting en op 17 Julie uit polisieaanhouding ontsnap het, is weer in hegtenis geneem.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê Tonko Gift Tshehla (20) is Maandag omstreeks 22:00 in die Sephaku-nedersetting ongeveer 50 km buite Groblersdal in Limpopo in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn wenk uit die gemeenskap ontvang het.

Volgens Ngoepe het Tshehla uit polisieaanhouding in Motetema ontsnap nadat hy hom as ʼn ander verdagte voorgedoen het. “ʼn 21-jarige man wat beweer het hy is familie van die verdagte, het opgedaag en R300 borgtog op die naam van ʼn ander verdagte betaal en Tshehla weggeneem,” het Ngoepe gesê.

Dit het later aan die lig gekom dat Tshehla verkeerdelik vrygelaat is.

Tshehla is oorspronklik in hegtenis geneem in verband met ʼn verkragting wat in 2016 plaasgevind het. Hy is daarna met nog vyf verkragtingsake verbind wat hy glo in 2014 uitgevoer het toe hy jong meisies van ongeveer 16 jaar oud geteiken het.

“Die verdagte sal binnekort voor die Motetema-landdroshof verskyn op aanklag van ontsnapping uit wettige aanhouding, asook die oorspronklike verkragtingsaanklagte,” het Ngoepe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.