Ontsnapte olifante terug in reservaat

Een van die olifante in die Dinokeng-wildsreservaat. Foto: http://www.dinokengreserve.co.za

Die trop olifante wat Sondag in die vroeë oggendure uit die Dinokeng-wildsreservaat noord van Pretoria gebreek het, is veilig terug in die reservaat.

Richard Lydall, voorsitter van die Dinokeng-grondeienaarsvereniging, het in ʼn verklaring bevestig die agt olifante het Maandagnag uit hul eie na die reservaat teruggekeer en dit was nie nodig om helikopters te gebruik om hulle terug in die reservaat te kry nie.

Volgens Lydall voldoen die heining om die reservaat aan al die nodige vereistes om die groot vyf binne te hou. Tog het ʼn groot olifantbul egter daarin geslaag om by die suid-oostelike gedeelte van die reservaat deur die heining te breek en die res van die trop het hom gevolg.

Teen Sondagoggend was die trop reeds etlike kilometers buite die reservaat. Sommige van die olifante is met opsporingstoestelle toegerus en hulle kon dus vinnig deur die veldwagters opgespoor word.

Lydall het gesê die metropolisie is dadelik ingelig van die moontlike verkeersgevaar indien die olifante oor openbare paaie sou beweeg. Die situasie is Sondag deur die nag gemonitor om seker te maak dat geen probleme ontstaan toe die olifante oor die Molotto-pad beweeg het nie.

“Die bestuur van die wildreservaat het die insette van olifantkenners ingewin en daar is vasgestel dat die olifante waarskynlik uit vrye wil na die reservaat sal terugbeweeg met passiewe interaksie met die veldwagters deur die nag. Dit was inderdaad die geval en teen Maandagaand was die olifante terug in die reservaat,” het Lydall gesê.

Hy het gesê ʼn ondersoek word tans gedoen om te bepaal hoe die olifante daarin geslaag het om deur die elektriese omheining te breek. Stappe sal gedoen word om ʼn soortgelyke voorval in die toekoms te voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gawie Nel ·

Dinokeng olifante is ‘n groot probleem vir die park se bure en eiland eiendomme binne die reservaat. Lydall lieg as hy beweer hul heinings is olifant bestand. Ons eiendom is al 2 keer gepenetreer dat hul olifante deur hul heinings loop. Een olifant is al deur desperate boer dood geskiet in sy mielieland. Ek wag nou nog om skade vergoeding. Hul leeus breek ook kort kort uit en vang beeste ens buite reservaat. Dinokeng is buite beheer en Natuurbewaring is lugtig om op te tree aangesien die staat finansiele belang in die park her.

Rina ·

Jy praat die waarheid. Die olifante was al 4 keer deur my ma hulle se drade. Die leeus was ook al daar en die cheetah ook. Hulle drade is glad nie op standaard nie. Mens kan nie eens meer daar loop nie want jy weet nie wanneer is die gevaarlike diere uit Dinokeng uit nie. Hulle maak net skade.

Jaco Grobler ·

Ja-nee, ‘n dag if twee in die’ SA-beskawings-oerwoud’ sou my ook laat terug hol bos toe as ek ‘n Ollie was.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek wil ook tong in die kies antwoord op die mense wat kla oor die probleme met ongenooide diere wat skade berokken op hul eiendom. My een vriend het eenkeer by die buurvrou gekla oor haar kind wat klippe teen sy ruite gooi en haar enigste antwoord was: ” Why don’t you move …?”

Sam ·

SARIE VAN HEERDEN Dit klink na ‘n stupid antwoord. Mens trek eerder die kinders se gat velle af as hulle stout is . Sorteer die probleem uit. Ek sal tog trek oor stoute kinders… Dis die hele wêreld se probleem, kinders reageer die ouers ….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.