Vier gevangenes wat Woensdag op pad na die St. Albans-tronk in Port Elizabeth ontsnap het, is binne ʼn paar uur weer vasgetrek.
Die Oos-Kaapse polisie het in ʼn verklaring gesê twee polisiebeamptes het die gevangenes omstreeks 14:20 vanaf die hof na die korrektiewe sentrum vervoer toe die voorval gebeur het. “Die bestuurder van die vangwa het geluide van agter uit die vangwa gehoor. Hy het gemerk hoe die gevangenes van die bokant van die vangwa af spring en in die bosse verdwyn,” lui die verklaring.
Die vier gevangenes was reeds gevonnis op aanklagte van roof wat in die Mount Road- en Bethelsdorp-gebiede plaasgevind het.
ʼn Soektog na die gevangenes is onmiddellik van stapel gestuur en bystand van die polisie se lugvleuel is ook ontbied. Teen gisteraand is al vier verdagtes weer in hegtenis geneem.
Genl.maj. AP Swart, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die polisiebeamptes geloof vir hul toewyding om die gevangenes onmiddellik weer aan te keer. “Die gemeenskap kan gerus wees en weereens veilig voel,” het Swart gesê.
Dit vat ook nie veel om die generaal te beïndruk nie ……hulle moes in die eerste plek nie ontsnap het nie pleks doen julle net julle werk dan sal dit ook beter gaan.
Hulle moes in die eerste plek NIE ONTSNAP HET NIE!
Reeds gevonnis maar al te makilk om te ontsnap, seker vir hulle oopegelos vir “krismis” bydrae.
hoe het hulle op die bo-kant van die vangwa beland? het die vangwa nie ‘n dak nie of was die dak oopgebreek?
Hulle het glo die wa se dak van binne af oopgebreek. Duidelik is daar ‘n gebrek aan instandhouding as dit so maklik kan gebeur.
“Die gemeenskap kan weer gerus voel”?? Ek voel nie baie gerus as die misdadigers met soveel gemak van die voertuig afspring nie. Waarmee is hulle vervoer? ‘n Beestrok?