Ontspanningsreise tussen provinsies kan toerismebedryf ‘help red’

(Foto: Love South Africa/Facebook)

In die meer as 100 dae sedert Suid-Afrika in ʼn landwye staat van afsondering geplaas is, het reis- en toerismebesteding van nagenoeg R68 miljard verlore gegaan, het die Toerismesakeraad van Suid-Afrika (TBCSA) Dinsdag gesê.

Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van die TBCSA, sê plaaslike interprovinsiale reise kan duisende werksgeleenthede in die reis-, toerisme- en gasvryheidsbedryf red, maar die regering staan bankvas by sy besluit om nie dié bedryf te heropen nie.

Ontspanningsreisigers mag in dié stadium geregistreerde verblyfplekke besoek, maar mag ingevolge die rampbestuursregulasies steeds nie provinsiale grense oorsteek om dit te doen nie.

Restaurante het vandeesweek ook weer hul deure vir aansit-etes geopen, maar geen drank mag op die perseel bedien word nie, hoewel dit gekoop en dan weggeneem mag word. Talle restaurateurs het reeds aangedui dat dié beleid dit bloot nie lewensvatbaar maak vir hulle om te heropen nie.

“As die regering nie vandeesweek nog interprovinsiale ontspanningsreise toelaat nie, gaan die bedryf met massa-afleggings begin,” waarsku die sakeraad.

Die organisasie sê die situasie gaan boonop vererger word omdat die Covid-19-TERS-voordeel wat vantevore aan geraakte werkers uitbetaal is, aan die einde van Junie gestaak word. Hy sê verskeie versekeringsmaatskappye weier ook om eise uit te betaal wat sakeondernemings ingedien het omdat hul bedrywighede deur die Covid-19-pandemie tot stilstand gedwing is.

(Foto: Love South Africa/Facebook)

“Interprovinsiale reise gaan hoop vir die bedryf skep en die massa-afleggings teenwerk,” het Tshivhengwa gesê.

Die bedryf verloor na raming nagenoeg R748 miljoen vir elke dag van die afsonderingstydperk en die TBCSA voorspel dat sowat 600 000 werksverliese gely gaan word as die bedryf op dié manier gesluit bly. Hy sê die uitwerking gaan ook na ander bedrywe uitkring.

Volgens die sakeraad is nagenoeg 49 000 klein, mediumgrootte- en mikro-ondernemings (KMMO’s) reeds negatief geraak en verskeie se deure is nou permanent gesluit.

“Ons het protokol ontwikkel om die verspreiding van Covid-19 oor die hele toerismewaardeketting te verminder en dit is aanvaar. Die volgende stappe wat die toerismebedryf doen, moet dít en ons gereedheid om te heropen, weerspieël.

“Interprovinsiale reisigers, net soos sakereisigers, het ʼn beduidende bydrae om te lewer tot die land se toerismebedryf en ons moet toegelaat word om hulle te ontvang,” het Tshivhengwa gesê.

Volgens syfers van Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) word provinsiale grense in tot 60% van alle plaaslike oornaguitstappies oorgesteek. Vir Gautengse reisigers styg die syfer tot 70%. Talle ondernemings maak ook geheel en al staat op Gautengers om hul ondernemings aan die gang te hou.

“Provinsiale grense is kunsmatig wat betref ʼn verbod op reis. Sommige mense reis 10 km en steek ʼn provinsiale grens oor en ander reis 300 km of meer van die huis in ʼn enkele rigting en steek geen grens oor nie.

“Interprovinsiale reise word reeds vir werk, sake, studiedoeleindes, begrafnisse en die versorging van kwesbare mense toegelaat. As mense in sulke kategorieë veilig oor provinsiale grense kan reis, kan ontspanningstoeriste ook,” het Tshivhengwa gesê.

(Foto: Love Cape Town/Twitter)

David Maynier, die LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede in die Wes-Kaap, het ook gesê die minister van toerisme moet dringend duidelikheid gee oor wat ingevolge die regulasies toegelaat word. Mmammoloko Kubayi-Ngubane het die afgelope week tydens ʼn mediakonferensie gesê verblyf vir ontspanning word nog nie toegelaat nie, hoewel dit op die vlak 3-bepalings wat amptelik aangekondig is, wél toelaatbaar is.

“Ons kan nie dié verwarring bekostig nie,” het Maynier gesê.

Maynier stem saam dat die heropening van verblyf kan help om werksgeleenthede te red.

Hy sê die Wes-Kaap is ook oortuig dat plekke soos strande, parke en ander ope- en buitelug-toeriste-aantreklikhede weer veilig vir besoekers oopgestel kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

The ANC minister of tourism Nkhensani Kubayi-Ngubane, has asked President Nkosazana Dlamini-Zuma, and she has said NO! At this time only illegal cigarettes are allowed to cross provincial boundaries.

Spyker ·

Woonwaparke is besig om te vou en ek smag om die woonwa te hak.

Prikkie ·

Hoekom mag ek nie ‘n provinsiale grens oorsteek nie? Omdat ek sodoende die virus kan/gaan versprei??

Belaglik! Die virus is in elke provinsie van hierdie land en ek kan niks doen om dit verder te versprei nie.

Stiksienigheid is die probleem van hierdie regering. Stel eerder maatreëls in wat sin maak en wat uitgevoer en gepolisieër kan word. Dit sal help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.