Ontstoke inwoners neem Eskom-werkers as gyselaars

Argieffoto bloot ter illustrasie.

Werknemers van Eskom is Maandag deur ontevrede gemeenskapslede in Mabopane, noord van Pretoria, as gyselaars aangehou.

Amanda Qithi, woordvoerder van Eskom, sê die gemeenskap van Morula View het altesaam nege van die kragvoorsiener se werknemers as gyselaars geneem, voordat hulle gisteraand deur wetstoepassingsowerhede na veiligheid gebring is.

Geen werknemer is tydens die gyselaarsdrama beseer nie.

Qithi sê die gemeenskap van Morula View is ongelukkig oor ’n stukkende minisubstasie in hul omgewing.

Inwoners dring daarop aan dat die minisubstasie herstel word. Eskom beleef egter tans ’n tekort aan minisubstasies wat ’n vertraging in herstelwerk aan die toerusting tot gevolg het.

Qithi erken dat die gemeenskap van Morula View een van dié is wat tans deur die vertraging in herstelwerk aan minisubstasies geraak word.

Sy wys egter daarop dat onwettige verbindings, die omseiling van kragmeters en vandalisme van infrastruktuur groot druk plaas op die kragnetwerk terwyl Eskom bont staan met toerusting wat die gees gee.

Volgens Qithi werk die kragvoorsiener tans saam met vervaardigers om alle stukkende minisubstasies so gou moontlik te herstel en sodoende kragtoever na betalende kliënte te herstel.

Eskom het Maandag se gyselaarsvoorval in Mabopane veroordeel.

“Ons glo dat probleme opgelos kan word sonder om ons werknemers se lewens te bedreig. Ons doen ʼn beroep op gemeenskappe om geduldig met ons te wees terwyl ons werk aan ’n oplossing vir die tekort aan minisubstasies.”

Maroela Media het Dinsdagoggend ’n navraag aan die Gautengse polisie gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Daai een paragraaf is uiters belangrik: “kragtoevoer na betalende kliënte te herstel”. 90% van daai gemeenskap is bes moontlik die rede tot die vandalisme, kabeldiefstal en wonder hoeveel betaal hulle Eskom rekening maandeliks

Vernon

Mense sal moet leer om te betaal vir wat jy wil he! Eskom se eie skuld oor hy nie met hand en tand onwettige verbindings takel nie.

Marcello

Dit is nie net Eskom wat sukkel met minisubstasies nie, in Vereeniging is daar inwoners wat al maande sonder krag is, in betaalde area, en dit val onder die Munisipaliteit.

Tino

Hoekom word die substasies vervang voor die onwettige koppeling en meter omseilings nie strafregtelik uit geklaar word nie… Dan kan die wettelose eie medisyne kry.

koos10

“Eskom het Maandag se gyselaarsvoorval in Mabopane veroordeel.”
Helloooooo, Eskom julle hou die hele Suid Afrika al vir 20 jaar gyselaar!!

Maar ja, Eskom moet die tjek uitbetaal wat die ANC uitgeskryf het.