Ontstoke kiesers veroorsaak chaos in Durban

Die kiesers het Donderdagaand amok in die middestad van Durban gemaak (Foto: Dasen Thathiah, Twitter)

’n Groep kiesers wat glo vies is omdat hulle nie Maandag tydens die munisipale verkiesing kon stem nie, het Donderdagaand amok in die middestad van Durban gemaak.

Dié kiesers beweer hulle het geregistreer om te stem, maar hul name was Maandag nie op die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se stelsel om wel te kan stem nie. Hulle is dus weggewys van stemlokale sonder om hul kruisies te kon trek.

Volgens superintendent Parbhoo Sewpersad, woordvoerder van die Durbanse metropolisie, het ’n groep van 150 kiesers, wat in die Dalton-koshuis in Umbilo woon, in die middestad van Durban oproerig geraak.

“Die groep kiesers het ’n voertuig by die stemstasie by die Thekwini College in Sydneyweg aan die brand gesteek. Hulle het ook bande in die pad gebrand en rommel in die strate gegooi,” bevestig Sewpersad.

Die kiesers het Sydneyweg, Galeweg en Umbiloweg ingevaar en dié paaie was deur die nag en nog Vrydagoggend vir verkeer gesluit.

Volgens Sewpersad het dié groep ook skerp ammunisie op metropolisie- en polisielede afgevuur.

“Die situasie was teen Vrydagoggend kalm en daar is met opruimingswerk begin.”

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

Daily Maverick berig die inwoners van die Dalton-koshuis is groot IVP-ondersteuners. Die koshuis is in die eThekwini-munisipaliteit se wyk 32 geleë.

Ná afloop van die verkiesing se resultate wat Donderdag amptelik bekend gemaak is, het die ANC dié wyk met 51,59% stemme gewen, gevolg deur die EFF met 14,93%. Die IVP het slegs 11,74% stemme verwerf.

Mthembiseni Thusi, voorsitter van Dalton-koshuis, het Donderdagaand aan Daily Maverick gesê die inwoners het betoog omdat hul name nie Maandag op die OVK se stelsel was om te kon stem nie.

“Die OVK-gebiedsbestuurder het met die inwoners kom praat. Ek was deel van die onderhandelinge. Ek het aan die gebiedsbestuurder gesê die gemeenskap wil met die hand stem, maar die OVK het gesê hulle kan dit nie doen nie. Die inwoners was baie ongelukkig en dit is tóé dat hulle oproerig geraak het,” het Thusi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Waarnemer ·

Nog 150 nie-stemmers,nog 150 stemme vir die ANC…So What!Hierdie verkiesing was volgens die OVK vry en regverdig….Rerig?

Di ·

Help nie om dae later amok te maak nie – die koeel is deur die kerk. Dink ons almal het van die begin af geweet dat die korrupte ANC gaan wen – Hulle SORG dat hulle wen en dit gaan nie verander nie. Zumpie het mos op TV gese dat die ANC in bewind sal bly totdat “die persoon” weer terug kom aarde toe!

Dup ·

Ai, ek verlang na die ou dae…..toe kiesers en kandidate mekaar nog met ryp tamaties en vrot eiers gegooi het……vandag vermoor,brand en rand hulle mekaar aan en saai oral amok.

Grassie ·

Dup – dit het destyds ook nie aldag so rustig verloop nie. My oorle’ oupa was op ‘n vergadering in Ventersdorp waar die smelters en die nattes aanmekaar gespring het. Hy het ‘n stoel se poot afgebreek en die smelters daarmee gemoker. En hy was algemeen bekend as ‘n sagmoedige man.

Jannie van Niekerk ·

Regtig mnr Ramaphosa? ‘n Vry en regverdige verkiesing as mens geregistreer het en jou naam is nie op die kieserslys nie? Net soos daar volgens jou nie iets soos plaasmoorde is nie? Hoe kan mens Pinnochio glo?

Nettie ·

My naam wasook nie op die kieserslys gewees nie. Dit nadat ek geregistreer het en n sms gekry het waar ek moet gaan stem.

Moedeloos ·

Ek weet ook van kiesers wat nie kon stem nie agv hiervan. Sal nogal graag wou weet of die OVK enige rekord kan trek om te kan sien wie of hoe het die name “verdwyn”.

Blomme ·

Moet alles deesdae met vuurhoutjies, klippe en ammunisie reggemaak word? Lyk dan nou dis die enigste taal wat hier gepraat word! Wil voorkom of geweld die 10de amptelike taal van die land is.

Pietertjie ·

Hoeveel inhegtenisnemings is gemaak? Hoeveel klagtes van poging tot moord, onwettige afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n woongebied, saak-beskadiging? Of is hulle gepaai en toegelaat om sommer net daar hulle kruisies te trek?

Rein ·

ʼn Geval van: ‘Ek is kwaad vir my werkgewer en skop my hond!’ In hierdie geval – ‘ek is kwaad vir die OVK en verwoes ʼn kar.’

Frederik C ·

Kan die 150 stemme nie maar by die EFF s’n gevoeg word nie. Gekyk na die gedrag van die ontevredenes, sou hul vir die EFF stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.