Onttrekking van rasreëls ’n stap in die regte rigting

Dirk Groenewald, Solidariteit

Dirk Groenewald, Solidariteit

Die departement van arbeid se onderneming om, na wat berig word, weg te doen met sekere drakoniese rasreëls in die voorgestelde gelyke indiensnemingskodes is volgens Solidariteit ’n stap in die regte rigting.

Die regulasies, wat in Februarie vanjaar gepubliseer is, bepaal dat aangewese werkgewers wat meer as 150 werknemers in diens het slegs die nasionale rassedemografie mag gebruik wanneer persone in die boonste drie bestuursvlakke aangestel word. Inwerkingstelling van dié kodes sou meebring dat veral bruin, maar ook talle wit, Indiër en swart persone noodgedwonge sou moes verhuis as hulle werk wou hê.

Volgens Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, lyk dit asof die bepalings oor weerspieëling van die nasionale rassedemografie in die regulasies nou teruggetrek sal word. “Ons probeer tans om amptelike bevestiging van die terugtrekking, sowel as van die volledige nuwe bewoording wat die kodes sal aanneem, te bekom,” het Groenewald gesê. “Ons hou steeds ons opsies vir regsaksie oop nadat ons reeds vroeër vanjaar onderneem het om die tersaaklike bepalings tot in die hoogste howe te bestry.”

Groenewald sê die regulasies oor gelyke indiensneming is in Februarie vir kommentaar vrygestel nadat die gewysigde Wet op Gelyke Indiensneming van krag geword het. “Ingevolge dié wet het die minister van arbeid omvattende diskresionêre magte bekom om deur middel van regulasie te bepaal watter faktore en kombinasies, byvoorbeeld van streeks- of nasionale rassedemografie, vir gelyke indiensneming in ag geneem moes word. Die klaarblyklike plan van die departement was om in die lig van die gewysigde wet se diskresionêre magte ’n ideologie van absolute rasseverteenwoordiging deur middel van die regulasies bindend op werkgewers te probeer maak. Solidariteit het toe daarop gewys dat die diskresie nie onbeperk kan wees nie en dat die voorgestelde regulasies nie die toets van die howe sal deurstaan nie.”

Volgens Groenewald wil dit voorkom of die groot openbare druk deur Solidariteit en andere teen die kodes die departement laat besin het. “Dit toon weereens hoe belangrik openbare druk is – en watter betekenisvolle rol burgerlike organisasies kan speel om skadelike wette en beleidsrigtings teen te staan,” het hy bygevoeg.

In ’n brief aan Mildred Oliphant, minister van arbeid, het Solidariteit verlede maand versoek dat die omstrede konsepregulasies oor gelyke indiensneming teruggetrek moet word.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het toe gesê dat die bepalings sowel regtens as moreel verkeerd is. “Deur die klakkelose toepassing van numeriese teikens op grond van die nasionale rassedemografie word lede van minderheidsgroepe vervreem en gevolglik bou die wrewel in minderheidsgemeenskappe toenemend op,” het Hermann gesê. “Dit het ernstige polarisasie tussen rassegroepe tot gevolg en is daarom eenvoudig nie moreel regverdigbaar nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae