Ontvoerde 8-jarige se liggaam gekry

Mabareki Carlifonia Molamodi (Foto: Verskaf)

Die liggaam van ’n agtjarige meisie van die Zangoma-nedersetting digby Tzaneen in Limpopo se liggaam is Donderdag in die vroeë oggendure gevind. Dít nadat sy Dinsdag as vermis aangemeld is. Sy is vermoedelik ook verkrag.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het Donderdagoggend in ’n verklaring bevestig dat die liggaam van Mabareki Molamudi vroeër in die bosse van die Xipungu-nedersetting gevind is.

Mabareki was ’n gr. 1-leerder aan die Totwana Primary School in dié nedersetting.

Maroela Media het vroeër berig die polisie was op die spoor van Mabareki se halfbroer nadat sy Maandagmiddag laas saam met haar hom deur lede van die gemeenskap gesien is. Hulle het na ʼn nabygeleë winkel gestap.

Volgens Mojapelo het die soekgeselskap Woensdag omstreeks 22:00 inligting ontvang dat die verdagte ’n tradisionele geneser in Achornhoek in Mpumalanga gaan raadpleeg het. Die verdagte is omstreeks 01:30 in die geselskap van die geneser aangetref en op die plek in hegtenis geneem.

“Verdere ondersoeke het die span na ʼn gebied langs die plaaslike crèche in Xipungu in die polisiëringsgebied Letsitele buite Tzaneen gelei, waar Mabareki se liggaam in die bosse gevind is.”

Volgens Mojapelo toon ’n aanvanklike ondersoek daarop dat Mabareki moontlik verkrag is voordat sy vermoor is.

Die verdagte sal na verwagting Vrydag in die Ritavi-landdroshof op aanklagte van ontvoering, verkragting en moord verskyn.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, die provinsiale polisiekommissaris van Limpopo, het intussen die kind se moord veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Plaaskind ·

Sanghomas laat mens sidder. Jammer jonge meisie, ek lees op jou hemp, Little girl with big dreams. So jammer jou groot drome kon nie bewaarheid word nie. Dis ook jammer dat vroue oor die algemeen as besittings beskou word en hul liggame en lewens so min werd is en misbruik word.

Rudolf ·

Kyk die gesegde op die hempie – “Little girl, Big dreams”. Bitter ironies en so tragies. Waarom was dit nou nodig ?

Hendrik ·

Ek hoop die reg kom baie hard neer. Alle lewens maak regtig saak. Ek het self ‘n Gr. 1 kind en ek sidder om aan hierdie gebeure te dink. Dalk sou hierdie kind veiliger gewees het as die skool nog oop was, Covid of nie.

Kokerboom ·

So tragies!!!Die boosheidsiekte in ons land is ‘n miljoen meer erger as die heersende virus

Maryna ·

Hoekom maak ons mekaar so seer? Hoekom het die wereld so siek geword? Dis tyd om terug te draai na God! Niemand is meer veilig nie, nie eers van familie nie, my hart huil vir jou meisiekind, jou hele lewe het nog voor jou gele, mag Jesus jou toevou in Sy ewige liefde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.