Ontvoerde babaseuntjie veilig opgespoor

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Drie weke oue babaseuntjie wat op 8 Julie uit ʼn winkel in KwaZulu-Natal gesteel is, is veilig in Johannesburg gevind.

“Die baba is in ʼn goeie toestand,” het maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, Donderdag in ʼn verklaring bevestig. “Hy is na ʼn hospitaal geneem om medies ondersoek te word en sal daarna met sy familie herenig word.”

ʼn 32-jarige vrou is in die woonstel in Johannesburg se middestad in hegtenis geneem.

“Lede van die KwaDukuza-eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksoortredings en die Johannesburgse metropolisie het Dinsdag inligting ontvang wat hulle tot by die woonstel gelei en waar hulle die verdagte en die babaseuntjie aangetref het,” het Zwane bygevoeg.

Die ma van die seuntjie was op 8 Julie besig om inkopies te doen toe die verdagte haar glo genader het en beloof het om babakleertjies vir die seuntjie te koop. Sy het daarna versoek om die seuntjie vas te hou en in ʼn oogwink het die verdagte en die seuntjie verdwyn.

Die KwaDukuza-polisie het ʼn saak van ontvoering ondersoek.

Die vrou sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.