Ontvoerde Kaapse sakeman vrygelaat

Die teenmismaadaktivis Yusuf Abramjee se twiet oor Liyaqat Parker se vrylating.

Die Kaapse sakeman Liyaqat Parker is vrygelaat nadat hy langer as twee maande gelede ontvoer is.

Die teenmisdaadaktivis Yusuf Abramjee, hoof van die #MakeSASafe-inisiatief, het Dinsdagoggend getwiet die 65-jarige sakeman is met sy gesin herenig nadat ʼn losprys van miljoene rande glo betaal is. “Hy is een van ʼn menigte sakelui wat die afgelope paar jaar ontvoer is,” het Abramjee getwiet.

Hy het die inligting teenoor Maroela Media bevestig, maar gesê dit is al wat hy weet van Parker se terugkeer.

Die Parker-familie se regverteenwoordiger was nie Dinsdagoggend onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.

Vyf onbekende mans het die sakeman op 9 Julie vanjaar by sy sakeperseel in Parow in Kaapstad se noordelike stadsgebiede ontvoer nadat die gewapende ontvoerders die veiligheidswag in die parkeerkelder oorrompel en toegesluit het.

Gerugte het destyds die ronde gedoen dat sy ontvoerder R50 miljoen in kriptogeld van Parker se gesin geëis het, het Maroela Media toe berig. Die polisie het dit weerlê.

Nog ʼn welgestelde Kaapse sakeman, Sadeck Zhaun Ahmed (71), is in April vanjaar in soortgelyke omstandighede by sy sakeonderneming ontvoer, het Times Live ten tyde van Parker se ontvoering berig . Hy is ongedeerd met sy gesin herenig, maar dis onbekend of ʼn losprys betaal is.

Die Sunday Times het in April vanjaar berig die Valke en SAPD het ʼn spesiale taakspan op die been gebring om die ontvoering van sakelui deur sindikate wat ʼn losprys eis, te ondersoek. Die Valke het toe bekendgemaak 24 mense is in die voorafgaande 18 maande in Suid-Afrika ontvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Ontvoering sal in die toekoms toenemend voorkom. Dit is verseker makliker om ‘n weerlose persoon te ontvoer as om ‘n transitorooftog te pleeg en ‘n geliefde familielid kan enigiets tussen ‘n honderduisend rand na etlike miljoene rande se opbrengs besorg. Dit is eintlik verbasend dat ontvoering nie meer algemeen is nie.

Wetloos ·

Mexico is wetteloos. Daai land word beheer deur misdaad-kartels en korrupsie. Ontvoering vir losprys is al vir jare prominent in daai land. SA is op dieselfde paaidjie.

Wilma ·

SA regering laat mos al wat leef en beef oor die grens die land inkom..soveel kriminele

Lou ·

Net nog een van die vele tekens van verval in SA. Misdaad oorheers, ekonomie duik, toestande in skole en hospitale raak net slegter by die dag, infrastruktuur verswak ens, ens. Vinnig op pad om die Afrika standaard te bereik.
Regtig hartseer dat mense so kortsigtig en gierig kan wees ten koste van almal in die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.