‘Ontvoerde kind’ ses maande later steeds spoorloos

Monique Strydom (3). (Foto: Verskaf)

ʼn Driejarige dogtertjie word al vir bykans ses maande gesoek.

Monique Strydom is moontlik deur haar ouma ontvoer.

Die saak het eers onlangs onder die polisie se aandag gekom toe Monique se ma, Megan Wilders, ʼn saak van ontvoering aanhangig gemaak het.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê Wilders het herhaaldelik probeer om Monique se ouma, Lindy Strydom, en dié se lewensmaat, Almarie Pretorius Strydom, op te spoor voordat sy haar eindelik tot die polisie gewend het.

Volgens Thakeng het Wilders en Monique, wat in Gauteng woonagtig is, in Desember verlede jaar by die ouma en haar lewensmaat in Allanridge in die Vrystaat gaan kuier.

“Megan het glo in ʼn stryery met Lindy betrokke geraak en wou terug na Gauteng gaan, maar Lindy het na bewering geweier dat Monique saam met haar gaan,” sê hy.

Wilders het op 26 Desember uit die Vrystaat na Randburg vertrek en Monique saam met haar ouma agtergelaat.

“Sy het toe vir Lindy gebel sodat Monique kan terugkeer Gauteng toe, maar dié het glo geweier om Monique met haar ma te herenig.”

Maatskaplike werkers op Odendaalsrus is oor die voorval in kennis gestel en het by Lindy se huis besoek afgelê, maar sy en haar lewensmaat was nêrens te vinde nie.

Wilders het glo ook verskeie pogings aangewend om Monique en haar ouma op te spoor, maar dit was tevergeefs.

“Die ouma en haar lewensmaat het glo ook hul selfoonnommers verander en was dus nie verder bereikbaar nie,” sê Thakeng.

Wilders het op 12 Mei ʼn saak van ontvoering in Randburg aanhangig gemaak. Die saak is toe op 19 Mei na die Allanridge-polisiestasie oorgeplaas. Die saak word tans deur ʼn speurder verbonde aan die eenheid vir gesingsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek.

“Ons is tans op soek na die ouma, haar lewensmaat en die dogtertjie,” sê hy. “Hulle is moontlik in Swartruggens in Noordwes.”

Die polisie het ʼn beroep gedoen op enigiemand met inligting oor die saak om die betrokke speurder, Anja Tait, by 083 279 3213 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Misky ·

Daar is nie ‘n manier dat ek so lank sou wag voor ek optree nie. In die 1ste plek nooit, ooit my kind agtergelaat het nie.

KatjieDeKat ·

Die dogter het heel moontlik gedink dat dit die beste sou wees vir haar kind om op daardie stadium by haar ma agter te bly. Dis maar n snaakse storie hierdie, ek dink daar is baie aspekte wat ons niks van weet nie. Omstandighede. Hierdie, dink ek, is n ingewikkelde saak. Die ouma en vriendin reken dalk dat die dogtertjie veiliger is by hulle, wie weet? Soos ek sê, klink maar ingewikkeld.

Christine ·

Nooit, ooit ry ek weg sonder my kind nie. Ek dink daar is meer agter hierdie storie.

Stofdonkie ·

Swartruggens is nie ‘n baie groot dorpie nie, Kan hulle nie maar net ‘n polisie-beampte in Swartruggens vra om bietjie te soek na haar nie. Hulle moet darem seker ‘n foto van die ouma hê wat hulle dalk daar bietjie kan rond wys aan mense om uit te kyk vir haar.

Annelize ·

Ja nee wragtig, Swartruggens is nou werklik nie van die grootste dorpies nie. Swaai uit vir die hoender wat die hoofstraat probeer oorsteek, en jy ry die dorp mis!

Fotos van ouma en lewensmaat sou baie gehelp het. Klink my hier steek meer in die storie as wat vertel word.

Stofdonkie ·

Met ‘n bevolking van ongeveer 2,000 mense in Swartruggens sal daar darem seker so paar mense wees wat haar gesien het as sy wel daar is. Hoekom voel dit of daar nie werklik ‘n poging aangewend word om sulke sake op te los nie. Met vandag se tegnologie kan dit tog nie te moeilik wees om die mense op te spoor nie. As hulle die ouma se id-nommer het behoort hulle haar bankrekening te kan opspoor en dan volgens transaksies op die rekening te kan sien waar sy rond beweeg.

Goldy ·

Ja en dan doen ons eerlikes altyd al die moeite om te RICA maar wanneer dit nodig is word dit nie gebruik nie

Miena ·

Hierdie is beslis nie die lasste sien van die storie nie, Hier skuil iets baie dieper agter die volle storie. Daar is 3-kante aan hierdie saak… ons moet maar wag en sal weldra uitvind…

George ·

Ek hoop nie wat ek dink is waar nie. Maar ek glo nie die verhaal vir een sekonde nie. Ek dink mense het begin vrae vra, en nou moet daar n “paper trial” gelos word om te wys hulle het “probeer”

Nettie ·

Hierdie maak mens NAAR.

Mag God die 3 vrouens in hierdie dogtertjie se lewe vergewe, want sy’s deur AL DRIE gefaal. Ek hoop julle skaam julle en doen nou die regte ding vir hierdie onskuldige kindjie. Sy verdien nie wat julle al 3 aan haar gedoen het nie.

KatjieDeKat ·

Miskien doen die kind se ouma en haar vriendin n heel goeie werk om Monique te versorg. Miskien is sy beter af by hulle. Maar ons sal maar moet sien, daar is baie wat nog verborge is in hierdie hele aangeleentheid.

Adele ·

Dis vir my baie vreemd dat die Ouma nie die kind saam met die ma wou laat gaan nie….. en toe los die ma in elk geval die kind ater…. Nee wat, iets is hier nie pluis nie….

Hester Wilhelmina ·

Ag asseblief. Daai Ouma het tien teen een die kind gered, en nie ontvoer nie. Waar val die Ma NOU uit na 6 maande????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.