Ontvoerde kinders eers ná DNS-toetse begrawe

Die baba wat ontvoer is. Foto: Verskaf

Die 15 maande oue baba en die 13-jarige albino-meisie van Mpumalanga wie se liggame in Februarie vanjaar gevind is nadat hulle op 28 Januarie in die vroeë oggendure by ʼn huis in Vosman buite Witbank ontvoer is, sal begrawe word sodra DNS-toetse afgehandel is.

Die landdroshof in Witbank het vroeër vandeesmaand gehoor die polisie het glo die kop van ʼn mens en ander liggaamsdele in die huis van Thokozani Msibi, ʼn tradisionele geneser, gevind voordat hy verlede maand in hegtenis geneem is in verband met die ontvoering van en moord op dié twee kinders, wat as Gabisile Shabani (13) en Nkosikhona Ngwenya (die 15 maande oue baba) geïdentifiseer is.

Msibi het Dinsdag weer vlugtig saam met sy twee medebeskuldigdes, Themba Thubane en Knowledge Mhlanga, in die hof verskyn.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het gesê die saak word tans deur die polisie in Gauteng én in Mpumalanga ondersoek. “Ons het die DNS-toetsprosesse van Mpumalanga en Gauteng saamgevoeg en wag steeds op die uitslae. Ons wil seker maak dat beide kinders wel van die Shabane-familie is,” het hy gesê.

Die meisie wat ontvoer is. Foto: Verskaf

Hlathi sê die Gauteng-polisie is by die saak betrek omdat Shabani se liggaam in Cullinan, oos van Pretoria, gevind is. Ngwenya se liggaam is egter langs die N4-hoofweg in Mpumalanga gevind.

Hy kon nie bevestig of die familie van die oorledenes reeds hul liggame uitgeken het nie.

Landdros Darleen Venter het die saak tot 27 Maart uitgestel sodat Thubane en Mhlanga ʼn formele borgtogaansoek voor die hof kan bring. Venter het Mbisi se borgtogaansoek reeds op 6 Maart van die hand gewys. ʼn Ander beskuldigde in die saak, Mthobisi Brilliant Mkhize, het gesê hy gaan om “veiligheidsredes” nie om borgtog aansoek doen nie.

Maroela Media het vroeër berig drie verdagtes het glo toegang tot die huis verkry waar die kinders saam met ʼn 50-jarige vrou gewoon het nadat hulle deur die sit-en-eetkamer se venster gebreek het. Die vrou en haar 18-jarige dogter het die geraas gehoor en gaan ondersoek instel, waarna ʼn vuurwapen op hulle gerig is. Hulle is dadelik beveel om stil te bly. Die verdagtes het toe vir Gabisile en Nkosikhona uit verskillende kamers gegryp en in die donker op die vlug geslaan en verdwyn.  ʼn Soektog is daarna na die kinders en die verdagtes van stapel gestuur.

Msibi het volgens die staat glo na ʼn tradisionele geneser in Swaziland gegaan en hom gevra om hom van enige “slegte geluk” te bevry. Hy sou die tradisionele geneser betaal met die liggaamsdeel van ʼn jong meisie, maar die tradisionele geneser het geweier. Die 13-jarige Shabani is na bewering nie deur Msibi onthoof nie, maar deur ʼn verdagte van Swaziland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.