Ontvoerde kinders: Man ook van moord aangekla

Die baba wat ontvoer is. Foto: Verskaf

ʼn 32-jarige man het Dinsdag in die Witbank-landdroshof verskyn nadat die liggame van ʼn baba en ʼn tienermeisie, wat in Januarie uit hul woonplek naby dié Mpumalanga-dorp ontvoer is, opgespoor is.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het gesê die verdagte, Thokozani Msibi, het in die hof verskyn op twee aanklagte van ontvoering en ʼn aanklag van moord op die 15 maande oue babaseun.

“Hy gaan na verwagting ook van die moord op die 13-jarige meisie aangekla word, soos wat die ondersoek ontvou,” het Hlathi gesê.

Maroela Media het vroeër berig die kinders, Gabisile Shabani, ʼn 13-jarige albino-meisie, en Nkosikhona Ngwenya, 15 maande oud, is op 28 Januarie in die vroeë oggendure by ʼn huis in Vosman buite Witbank ontvoer waar ʼn 50-jarige vrou saam met haar kinders en kleinkinders woon.

Drie verdagtes het toegang tot die huis verkry deur die sit-en-eetkamer se venster te breek. Die vrou en haar 18-jarige dogter het die geraas gehoor en gaan ondersoek instel, waarna ʼn vuurwapen op hulle gerig is. Hulle is dadelik beveel om stil te bly.

Die verdagtes het toe vir Gabisile en Nkosikhona uit verskillende kamers gegryp en in die donker op die vlug geslaan en verdwyn, waarna ʼn soektog na die kinders en verdagtes van stapel gestuur is.

Hlathi het verlede Woensdag bevestig toe Msibi in hegtenis geneem is. Hy is aanvanklik net op twee aanklagte van ontvoering in hegtenis geneem. Die aanklag van moord op die babaseun is intussen bygevoeg.

Sy inhegtenisneming volg nadat twee liggame tydens die ondersoek onderskeidelik in Cullinan, oos van Pretoria, en langs die N4-snelweg gevind is. Gabisile se liggaam is in Cullinan gevind.

Msibi se saak is tot 6 Maart uitgestel wanneer hy na verwagting formeel om borgtog gaan aansoek doen. Hy bly in aanhouding.

“Die ondersoek duur voort aangesien die polisie vermoed dat die verdagte hierdie bose dade nie alleen uitgevoer het nie,” het Hlathi bygevoeg.

Lindiwe Ntshalintshali, Witbank se burgemeester, het ná die ontvoering aangevoer die daad hou moontlik verband met “bygelowige oortuigings”.

Sy het gesê Nkosikhona is glo verkeerdelik geteiken. “Gabisile leef met albinisme en die vermoede bestaan dat die ontvoerders Nkosikhona verwar het met ʼn ander baba van dieselfde familie wat ook albinisme het,” het Ntshalintshali gesê.

“Daar is stories dat mense wat met albinisme leef vermoor word vir hul liggaamsdele. Hierdie kinders het ʼn reg om te lewe net soos ander kinders. Die valse geloof dat hul liggaamsdele buitengewone magte het, moet uitgewis word. Albinisme is ʼn geneties-geërfde toestand.”

Die meisie wat ontvoer is. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Francoios le Cockon ·

Ons europeers was ook eers so gewees, sowat 20,000 jaar gelede.

Watse borgtog ·

Neeee vir borgtog vir kriminele, Neee vir eiendomsregskending! Dis tyd dat ons met regering oor belasting begin praat!!!!

Elaine ·

dalk MOET HULLE SO OPTREE MET ONS RENOSTERS WAT OOK SO GESTROOP WORD. VIR WAT MOET NET DIE MENSDOM GERED WORD? DIS HOEKOM DAAR NIE WATER IS NIE EN DROOGTE DIS WAAROM MENSE VREK VD HONGER! MAAR HOOR IS MIN EN AL VOEL JULLE KRIMENELE DAAR BUIT LUISTER JULLE NOGSTEEDS NIE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.