Ontvoerde kinders: Nog drie vas

Die baba wat ontvoer is. Foto: Verskaf

Nog drie verdagtes wat na bewering betrokke was by die ontvoering van ʼn 13-jarige tienermeisie en die ontvoering van en moord op ʼn 15 maande oue baba is in hegtenis geneem.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het vroeër gesê die kinders, Gabisile Shabani, ʼn 13-jarige albino-meisie, en Nkosikhona Ngwenya, 15 maande oud, is op 28 Januarie in die vroeë oggendure by ʼn huis in Vosman buite Witbank ontvoer waar ʼn 50-jarige vrou saam met haar kinders en kleinkinders woon.

Drie verdagtes het toegang tot die huis verkry deur die sit-en-eetkamer se venster te breek. Die vrou en haar 18-jarige dogter het die geraas gehoor en gaan ondersoek instel, waarna ʼn vuurwapen op hulle gerig is. Hulle is dadelik beveel om stil te bly.

Die meisie wat ontvoer is. Foto: Verskaf

Die verdagtes het toe vir Gabisile en Nkosikhona uit verskillende kamers gegryp en in die donker op die vlug geslaan en verdwyn, waarna ʼn soektog na die kinders en verdagtes van stapel gestuur is.

Thokozani Msibi, die eerste verdagte wat in hegtenis geneem is, het Dinsdag in die hof verskyn op twee aanklagte van ontvoering en ʼn aanklag van moord op die 15 maande oue babaseun.

Hlathi het verlede Woensdag, toe Msibi in hegtenis geneem is, gesê hy is aanvanklik net op twee aanklagte van ontvoering in hegtenis geneem. Die aanklag van moord op die babaseun is intussen bygevoeg.

Hlathi het gesê Msibi sal na verwagting ook van die moord op die 13-jarige meisie aangekla word namate die ondersoek ontvou.

Msibi se inhegtenisneming volg nadat twee liggame tydens die ondersoek onderskeidelik in Cullinan, oos van Pretoria, en langs die N4-snelweg gevind is. Gabisile se liggaam is in Cullinan gevind.

Thulani Thobela (26), Donie Cavin Boshielo (22) en Mthobisi Brilliant Mkhize (26) sal op 6 Maart saam met Msibi in die hof verskyn nadat hulle Woensdag vlugtig in die hof verskyn het. Hulle staan tereg op ʼn aanklag van moord en twee van ontvoering.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiekommissaris, het die harde werk van die polisiebeamptes wat betrokke is in die ondersoek geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.