Ontvoerde kinders se lyke dalk gevind

Die baba wat ontvoer is. Foto: Verskaf

Die liggame van ʼn baba en ʼn tienermeisie wat in Januarie uit hul woonplek naby Witbank in Mpumalanga ontvoer is, is moontlik opgespoor.

Maroela Media het vroeër berig die kinders, Gabisile Shabani, ʼn 14 jarige albino-meisie, en Nkosikhona Ngwenya, 15 maande oud, is op 28 Januarie in die vroeë oggendure by ʼn huis in Vosman ontvoer waar ʼn 50-jarige vrou saam met haar kinders en kleinkinders woon.

Drie verdagtes het toegang tot die huis verkry deur die sit-en-eetkamer se venster te breek. Die vrou en haar 18-jarige dogter het die geraas gehoor en gaan ondersoek instel, waarna ʼn vuurwapen op hulle gerig is. Hulle is dadelik beveel om stil te bly.

Die verdagtes het toe vir Gabisile en Nkosikhona uit verskillende kamers gegryp en in die donker op die vlug geslaan en verdwyn, waarna ʼn soektog na die kinders en verdagtes van stapel gestuur is.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het Woensdag aan Maroela Media bevestig ʼn 32-jarige man is vandeesweek op aanklag van ontvoering in hegtenis geneem.

“Twee liggame is tydens die ondersoek onderskeidelik in Cullinan, oos van Pretoria, en langs die N4-snelweg gevind. Die polisie kan egter nog nie in die stadium bevestig of die liggame dié van die ontvoerde kinders is nie, aangesien DNS-toetse en nadoodse ondersoeke gedoen moet word om dit te bevestig,” het Hlathi gesê.

Die inhegtenisneming spruit uit hulp van die gemeenskap nadat die liggame ontdek is. Die verdagte, Thokozani Msibi, het Woensdag in die Witbank-landdroshof verskyn. Die saak is tot 26 Februarie uitgestel vir verdere ondersoek.

“Die ondersoek duur voort aangesien die polisie vermoed dat die verdagte hierdie bose dade nie alleen uitgevoer het nie,” het Hlathi bygevoeg.

Hy kon nie onmiddellik meer inligting oor die liggame en plek waar die verdagte in hegtenis geneem is verskaf nie aangesien die ondersoek in ʼn sensitiewe stadium is.

Lindiwe Ntshalintshali, Witbank se burgemeester, het ná die ontvoering aangevoer die daad hou moontlik verband met “bygelowige oortuigings”.

Sy het gesê Nkosikhona is glo verkeerdelik geteiken. “Gabisile leef met albinisme en die vermoede bestaan dat die ontvoerders Nkosikhona verwar het met ʼn ander baba van dieselfde familie wat ook albinisme het,” het Ntshalintshali gesê.

“Daar is stories dat mense wat met albinisme leef vermoor word vir hul liggaamsdele. Hierdie kinders het ʼn reg om te lewe net soos ander kinders. Die valse geloof dat hul liggaamsdele buitengewone magte het, moet uitgewis word. Albinisme is ʼn geneties-geërfde toestand.”

Die meisie wat ontvoer is. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pastoor ·

Ek dink God se Geduld is op met hierdie wederstrewige volk. Die byl lê teen die boom
Nie meer lank nie. Dan sal Hy sy oordele uitgiet
Onshet Jesus bitter nodig

Cherokee ·

Pastoor, daar is soveel mense wat voorspel dat die wederkoms op hande is as gevolg van wat in Suid Afrika gebeur. Ek het jare gelede ‘n pastoor, wat leraar was van die kerk waarvan ek ‘n lid was (woon nie meer in dieselfde omgewing) tydens ‘n pot snoeker by my huis daaroor geroskam. Moet nie na Suid Afrika kyk asof dit die wêreld is nie. Ons is een klein kolletjie op die wêreldkaart. Dit gaan wel wild elders ook, maar julle is lief om na Suid Afrika te kyk asof dit die ganse aardbol is.
So sê ‘n diep gelowige vir jou.

Estelle ·

Ag nee. Dis tragies. Hoe lank gaan bygelowe nog gemeenskappe aan hierdie onsinnige moorde blootstel?

Gelowige ·

Cherokee die tekens is ook in ander lande sigbaar en ook in die natuur
Kyk net mooi en jy sal dit sien

Pastoor ·

Cherokee jys reg die wereld is verrot. Lees Ps 33. Sy oë sien alles. Die hele wereld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.