Ontvoerde kleuter gevind

Nefrin Lucraine Roberts saam met sy ouma, Lucinda Roberts. Foto: Verskaf deur SAPD

Die driejarige seuntjie wat glo Vrydagmiddag op ʼn strand in Port Elizabeth ontvoer is, is Sondagoggend ongedeerd gevind.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê die seuntjie is omstreeks 10:45 gevind in ʼn plakkershut in bosse langs Victoria Park-rylaan. ʼn 25-jarige vrou is op aanklag van ontvoering in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig Nefrin Lucraine Roberts was saam met sy ouma, Lucinda Roberts (52), op ʼn strand in Summerstrand toe hy na bewering deur ʼn vrou ontvoer is wat haarself as “Meagan” voorgestel het. Die vrou het glo na ʼn nabygeleë winkel gestap om sigarette te koop, die seuntjie saam met haar geneem en nie weer teruggekeer nie.

Naidu sê nadat die nuus oor Nefrin se verdwyning aan die lig gekom het, het kapt. Nomawethu Machewula talle oproepe van lede van die publiek ontvang wat vermoedelik die verdagte saam met die seuntjie opgemerk het.

Beamptes van Port Elizabeth se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings het alle moontlike leidrade opgevolg en uiteindelik op Nefrin afgekom in die hut wat diep tussen bosse geleë is.

“Die hawelose vrou beweer toe sy van die winkel af terugkeer, kon sy nie die kind se ouma opspoor nie en het toe die seun saam met haar geneem. Sy kon nie ʼn redelike verduideliking gee hoekom sy nie die polisie gekontak het nie,” sê Naidu.

Sy sê die seuntjie was ongedeerd, maar wel baie honger en is na die Dora Nginza-hospitaal geneem om ondersoek te word. Hy is daarna met sy familie herenig.

Die vrou sal môre op aanklag van ontvoering in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn.

Naidu het namens die SAPD die publiek en die media bedank wat gehelp het sodat die kleuter opgespoor kon word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

LB S ·

Watter normale Ma, Ouma of wie ookal, laat ‘n kind saam met ‘n vreemdeling wegstap na ‘n winkel of enige plek uit die oog!??

Estelle ·

Daar is heelwat dinge in hierdie situasie wat net nie sin maak nie en miskien ‘n teken is van die tye waarin ons woon. Eerstens, hoe laat jy, as verantwoordelike grootmens vir ‘n kind onder jou sorg net saam met vreemdelinge kafee toe gaan? Hoe lank is daar gewag vir hom om terug te keer vanaf die kafee voordat daar onraad vermoed is en ‘n saak gemaak is? Besef hierdie onverantwoordelike grootmens hoeveel tyd en geld spandeer is aan ‘n aangeleentheid wat deur verantwoordelikheid nooit ‘n situasie sou gewees het nie. Dit is asof almal, behalwe die familie van kinders, deesdae die skuld moet dra vir ouers en families se nie-omgee-houdings wanneer dit kom by kinders.

Sylvia ·

Ek is net dankbaar die kind was nie nog ‘n slagoffertjie nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.