Ontvoerde kleuter terug by die huis

Klein Onalerona Riet (Foto: Verskaf)

Die driejarige seuntjie, met wie ’n groep mans Maandagaand in ’n bakkie naby Bloemfontein op die vlug geslaan het, is gevind en terug by sy ouers. Hy is ongedeerd.

Drie verdagtes, onder wie die eienaar van die bakkie, is in hegtenis geneem in verband met klein Onalerona Riet se ontvoering.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die Bainsvlei-polisie se eenheid vir sigbare polisiëring, sy eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe en die blitspatrollie se gesamentlike ondersoek het polisiebeamptes Dinsdagaand na Khayelitsha buite Bloemfontein gelei, waar die eerste verdagte (32) in hegtenis geneem is.

Die tweede verdagte (24) is kort daarna in Khayelitsha in hegtenis geneem waar hy nog in die straat gestap het.

Verdere inligting het die polisiebeamptes na ’n huis in die Phomolong- informele nedersetting gelei waar die eienaar van die Datsun 1400-bakkie, wat tydens Onalerona se ontvoering gebruik is, in hegtenis geneem is.

Die kleuter is ongedeerd in ’n huis in dieselfde omgewing gevind. ’n Vierde verdagte het egter gevlug voordat die polisie by die huis aangekom het.

Makhele sê klein Onalerona is gisteraand na ’n hospitaal geneem om ondersoek te word en is intussen in sy ouers se sorg gelaat.

Dít nadat vyf mans Maandagaand met hom in hul bakkie op die vlug geslaan het toe Onalerona en sy ma (23) aanvanklik saam met hulle gery het op soek na die ma se kêrel.

Maroela Media het vroeër berig die ma het die betrokke aand Onalerona in die bakkie gelaat en saam met die mans by ’n dieseldepot in Baylana naby die R64 uitgeklim om na haar vriend te soek. Die mans was op soek na die kêrel. Dit is egter steeds nie duidelik waarom nie.

Die mans het egter veiligheidswagte by die depot opgemerk en skote in die lug afgevuur voordat hulle terug na die bakkie gehardloop en op die vlug geslaan het – met Onalerona nog op die passasiersitplek.

Makhele sê die aangekeerde verdagtes sal na verwagting Donderdag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn in verband met die kind se ontvoering.

Daar is ook beslag gelê op die bakkie vir verdere ondersoek.

Lt.genl. Baile Motswenyane, Vrystaatse polisiehoof, het intussen die inhegtenisnemings verwelkom. “Ons is dankbaar dat ons Onalerona ongedeerd met sy ouers kon herenig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Belinda ·

Arme kind het seke bietjie trauma ondergaan, maar eks bly hys veilig gevind.

Skappie ·

Is baie bly dat die kleintjie nou veilig by die ouers is.

Feather ·

Dankie tog, ‘n goeie nuus dag vir ‘n slag. Dit is hartseer dat enigiemand so min voel vir ‘n lewe, en dit so ‘n klein seuntjie.

Blomme ·

Wonderlik dat seuntjie gevind is. Dit bly egter steeds ń onverantwoordelike Ma. Hoekom het sy in die eerste plek met die mans saamgegaan en nogals die kind saamgeneem? Die feit dat daar rewolwers betrokke is toon reeds dat dit nie ń gesonde
soektog was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.