Ontvoerde man in hospitaal ná vrylating

(Argieffoto ter illustrasie)

’n Jong man van die Oos-Kaap sterk tans aan in die waakeenheid van ’n hospitaal nadat hy kort ná Kersfees ontvoer en eindelik op Nuwejaarsdag vrygelaat is. Die jong man, in sy 20’s, is glo erg deur sy ontvoerders gemartel voordat hulle hom Saterdag in die vroeë oggendure vrygelaat het.

Die private speurder Mike Bolhuis sê in ’n verklaring die man se broer het hom op 29 Desember genader om ondersoek in te stel nadat die jong man op 27 Desember ontvoer en ’n losprys van R5 miljoen van die familie geëis is.

’n Ondersoek sou later onthul dat die man vóór sy ontvoering gespog het dat hy R3 miljoen kontant het om ’n sakeonderneming te koop en dat die ontvoerders hom waarskynlik om dié rede geteiken het, sê Bolhuis.

Jacques Visser, een van twee spesialisondersoekers wat Bolhuis na die Oos-Kaap gestuur het om ondersoek in te stel, vertel aan Maroela Media dat die man by een van sy familie se ondernemings in ’n nedersetting in die omgewing van Oos-Londen ontvoer is, terwyl hy aflewerings gedoen het.

Hy is byna ’n week later vrygelaat. Die besonderhede rakende sy vrylating is egter nog nie bekend nie.

Geen losprys is betaal nie.

Bolhuis sê die man is tans in ’n stabiele toestand in die hospitaal.

Die familie se veiligheid geniet intussen voorrang, aangesien hulle na bewering óók dreigemente ontvang.

Maroela Media het ’n navraag aan die polisie gestuur rakende die ontvoering en vrylating van die man en wag nog op terugvoer.

  • Die datums in die berig is aangepas na aanleiding van nuwe inligting wat van die ondersoekers af ontvang is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SomeOne ·

ooooo, ee,
daars soveel woorde oor bolhuis se korrupsie waar hy honderde mense ingedoen het,
en julle stel hom aan ?

Perdeby ·

En hy het die saak opgelos na die Polisie nie n enkele leidraad opgevolg het nie, so hou jou onsmaaklike kommentaar vir jouself! Hy het die Polisie se taakspan ingekry asook die onderhandelaar, wees dankbaar hy is veilig. Indian iemand hom betaal en hy kry nie die saak opgelos nie, het hulle betaal vir dienste gelewer, en sommige sake bly onopgelos.

Kobus ·

Praat jy uit persoonlike ondervinding? Indien, bly liewer stil

Harley Davidson ·

Die polisie se onvermoë om die mense te beskerm en die misdaad te bekamp maak van mense soos Mike Bolhuis n noodsaaklikheid in Suid-Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.