Ontvoerde Pta-meisie weer met ma herenig

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Sesjarige meisie van Pretoria is oor die naweek weer met haar ma herenig nadat sy glo sowat ʼn jaar gelede ontvoer en landuit geneem is.

Maj. Robert Netshiunda, woordvoerder van die Valke, het Maandag aan Maroela Media gesê die sukses volg ná ʼn gesamentlike poging van die Mamelodi-polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings, die voertuigmisdaadondersoekeenheid in Komatipoort en Interpol.

“Die meisie is ʼn jaar gelede deur haar pa uit haar ouerhuis in Mamelodi, noordoos van Pretoria, ontvoer toe haar ma na ʼn kliniek toe gegaan het,” het Netshiunda gesê. “Die kind was in haar ouma se toesig toe haar pa, van Soshanguve, daar opgedaag het. Hy het aan die ouma gesê hy kom haar oplaai om vir haar klere te gaan koop.”

Die niksvermoedende ouma het toegelaat dat die kind saamgaan aangesien dit nie die eerste keer was dat hy tyd saam met sy dogter wou deurbring nie. “Die pa het toe egter bybedoelings gehad. Hy het die kind ontvoer en is met haar oor die grens na Mosambiek.”

Die ondersoekspan het saam met Interpol gewerk en vasgestel waar die pa en meisie in ʼn huis in die Mozul-dorpie in die buitewyke van die land gebly het. “ʼn Gesamentlike poging is aangewend en die meisie is in Mozul gaan haal, waarna die pa in hegtenis geneem is.”

Die meisie, wie se identiteit beskerm moet word, is Vrydag met haar familie in Mamelodi herenig. Die ma het Interpol en al die rolspelers bedank wat gehelp het om haar geliefde kind veilig aan haar terug te besorg.

Netshiunda het gesê die man staan onder meer tereg op aanklag van ontvoering. “Daar is egter ander beweerde misdrywe in Mosambiek waarmee die man ook verbind word. Hy word tans nog in Mosambiek aangehou en Interpol sal bepaal of hy na Suid-Afrika uitgelewer moet word om tereg te staan vir die ontvoering,” het Netshiunda bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Goeie nuus ·

Baie goeie nuus, ek is soo super bly vir die dogtertjie en natuurlik die Mamma ook.

Gesiggie ·

Ek is bly dat die dogter weer met haar Ma herenig is…n jaar is n lang tyd vir n Ma om te wonder of haar kind nog veilig is, en nou het die Pa ook ander beweerde misdrywe waarmee hy verbind word… Baie goeie werk aan Interpol en al die ander wat n bydrae gehad het tot die opspoor van die Meisie… hoop nie so iets sal weer gebeur

Leeukop ·

Wys jou net hoe sleg ons grensbeheer is dat n kind net so maklik simmer net oorgevat kan word, geen wonder dit wemel van oorgrens misdaad hier nie.

Nics ·

Ek dink los hom sommer daar in Moz – ek is seker hult ronke is bietjie erger as hier.

Elmarie Pretorius ·

Ek is bly 1 saak van ouer ontvoering is oopgemaak in SA. Dit is baie snaaks wonder net hoekom nie alle SAPS stasies se personeel weet dat dit werklikheid is dat n ouer wel n kind kan ontvoer en wel land kon verlaat het deur ons grensposte Waarom dan weier om n saak oop te maak. Ons is besig met twee sake wat die pa die kinders land uit gevat het 4 jr en 6jr later en ons sukkel nog steeds. SAPS se n pa kan nie sy eie kind ontvoer? Dink net hoe moet die mammas voel ?en alle deure word toe gemaak in hul grsigte. WEL ONS SAL NIE OPHOU BAKLEI ONS SAL VEG VIR DIE MAMMAS

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.