Ontvoerde Pta-sakeman steeds vermis

Omar Carrim (76)

Omar Carrim (76), ʼn sakeman van Pretoria wat in Augustus ontvoer is, word ná 81 dae steeds vermis.

Maroela Media het vroeër berig Carrim is op 3 Augustus ontvoer kort nadat hy sy onderneming, Home Hyper City in Pretoria se middestad, verlaat het. Hy was op pad na sy huis in Laudium, maar het nooit daar opgedaag nie.

ʼn Volskaalse soektog is na Carrim van stapel gestuur, maar tot dusver sonder enige sukses. Die sakeman se uitgebrande motor is die dag nadat hy verdwyn het naby Erasmia gevind.

Yusuf Abramjee, teenmisdaad-aktivis, het ʼn beroep op Carrim se ontvoerders gedoen om hom op humanitêre gronde vry te laat. “Dit is vandag die 81ste dag en Omar Carrim is steeds in aanhouding. Ons bid vir sy veilige terugkeer. Sy familie is ontsteld en het nou ʼn beroep op die publiek gedoen om saam met hulle te bid vir hul pa se vrylating,” het Abramjee gesê.

“Ons weet oom Omar is nie gesond nie en hy moet om menslikheidsredes vrygelaat word.”

ʼn Familielid van Carrim het gesê: “Al wat ons nodig het, is gebede. Ons kan nie verder kommentaar lewer nie.”

Abramjee het gesê georganiseerde misdaadsindikate teiken welgestelde sakemanne. “Die volgende groot georganiseerde misdaad het Suid-Afrika getref – ontvoerings. Daar was die afgelope paar jaar ʼn reeks ontvoerings en dit lyk asof dit al meer uitbrei. Wat kommerwekkend is, is dat hierdie sindikate al meer gewaagd en duidelik gesofistikeerd raak. Ontvoering-sindikate is al ʼn ruk lank bedrywig en werk deur hul slagoffers te ontvoer en dan miljoene rande se losprys te eis.”

Hy het gesê baie van hierdie bendes is al in hegtenis geneem, maar nuwe sindikate steek kort-kort kop uit. Meestal Indiese, Pakistanse, Chinese, Zimbabwiese, Mosambiekse en Bangladesjiese burgers wat in Suid-Afrika woon word geteiken.

“Baie van die slagoffers word gedwing om plaaslik die losprys te betaal. Ander bendes eis dat die losprys in ander lande betaal word om dit vir die wetstoepassingsagentskappe moeilik te maak om die spoor te volg,” het Abramjee gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Daan ·

Oom Omar is ‘n baie siek man. Die mense wat hom ontvoer het is gewetenlose moordenaars. Ek hoop hulle word gekry.

Johann ·

Deel van die gevolge van n anargie staat, waar die verval van wet en orde en wets toepassing aan die orde van die dag is. ANC LEGACY: saai chaos en huts dit aan sodat hulle uit desperaatheid n nood toestand kan verklaar en aan bewind bly. Net jammer die GUPTAS is nie deel van die intvoer van ryk persine nie…sou n losprys betaal vir hulle om NIE vrygelaat te word nie…

Andrea ·

As die arme oom nie al verloor is nie… Wat is die kanse dat misdadigers eerbaar sal optree en n siek, ouer persoon sal vrylaat?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.