Die Suid-Afrikaanse fotojoernalis Shiraaz Mohamed is glo eindelik tuis nadat lede van die Islamitiese staat hom drie jaar gelede in Sirië ontvoer het.
ʼn Bron in die veiligheidsgemeenskap in Ankara het aan Reuters gesê Mohamed het Donderdag met die hulp van die Turkse intelligensie-agentskap huiswaarts gekeer.
Maroela Media het vroeër berig Mohamed is na bewering op 10 Januarie 2017 in Darkoesj in Sirië ontvoer. Hy is aanvanklik daarheen om die lyding van gewone Siriese burgers weens die oorlog te dokumenteer.
Volgens die noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers het Mohamed verlede maand uit aanhouding ontsnap. Hy is oor die Turkse grens en is daar aan dié land se intelligensieowerhede oorhandig.
Nié Shiraaz se familie, die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) óf Gift of the Givers kon Vrydag vir kommentaar bereik word om amptelik te bevestig of Mohamed wél in Suid-Afrika aangekom het nie.