Ontvoerde sakeman gered

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplashed)

ʼn Ontvoerde sakeman van Vereeniging in Gauteng is Maandag kort voor middernag ongedeerd deur die polisie in Lenasia-Suid opgespoor. Twee buitelanders en ʼn Suid-Afrikaner is in verband met die ontvoering in hegtenis geneem.

Volgens kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, is Zaheer Asmal Vrydagoggend by sy sakeperseel ontvoer. Sy ouderdom en die naam van sy onderneming is nie bekendgemaak nie. Die motief vir die ontvoering en of ʼn losprys vir Asmal se vrylating geëis of betaal is, is ook nie bevestig nie.

Mathe sê die polisie se teen-ontvoeringtaakspan het Maandagaand in samewerking met die Johannesburgse metropolisie en private veiligheidsmaatskappye op drie persele in hul soektog na Asmal toegeslaan.

ʼn 70-jarige Mosambiekse man is by die perseel waar Asmal in Lenasia-Suid opgespoor is, in hegtenis geneem. Hy is glo die eienaar van dié perseel.

ʼn Malawiese burger is by ʼn tweede perseel in Ennerdale aangekeer nadat ʼn Toyota Hilux-bakkie met vervalste nommerplate in sy besit gevind is. Die voertuig is glo gebruik in die pleeg van ʼn misdryf.

Die polisie het ook by ʼn perseel in Roodepoort toegeslaan waar daar op hulle losgebrand is. Niemand is tydens die voorval beseer nie.

ʼn Suid-Afrikaner is hier in hegtenis geneem en die polisie het op ʼn ongelisensieerde vuurwapen beslag gelê.

“Al drie verdagtes staan ​​tereg op aanklagte wat verband hou met ontvoering en roof met verswarende omstandighede. Die Suid-Afrikaner staan ​​tereg op bykomende aanklagte van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en poging tot moord,” het Mathe gesê.

Die taakspan het die afgelope week agt verdagtes in hegtenis geneem wat met ontvoerings en die eis van lospryse verband hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swerwer ·

Ja nee, die grense is mos oop vir almal, Hul word eintlik genooi deur die ANC Kader om misdaad in ons land tekom pleeg.

JM ·

Asof daar nie genoeg misdaad deur ons eie mense gepleeg word nie, kom sit uitlanders gerieflik hand by om dit erger te maak. Weg met die ANC regering!

Androclus ·

Buitelanders asb laat hulle gaan van waar hulle kom asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.