Ontvoerde sakeman ongedeerd gevind

Die polisie het op die perseel op altesaam R6 miljoen se kontant afgekom (Foto: SAPS)

Die polisie het Donderdag ʼn sakeman van Lenasia, Gauteng, ongedeerd opgespoor nadat hy twee dae tevore ontvoer is. Luqman Kazi (34) is Dinsdag op pad werk toe gegryp.

Volgens kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het die polisie ʼn multidissiplinêre taakspan op die been gebring om na Kazi te soek.

“Die polisie het Donderdag in die middernagtelike ure op vier geïdentifiseerde adresse – waar Kazi hom moontlik kon bevind – toegeslaan. Die polisie het Kazi by die eerste adres, ʼn perseel in Lawley, opgespoor en bevry.

Hulle het ook beslag gelê op ʼn ongelisensieerde 9 mm-pistool. “Drie verdagtes is in hegtenis geneem,” sê Mathe.

By die ander adresse in Lenasia het die span nog drie verdagtes vasgetrek, waaronder ʼn 43-jarige Mosambiekse burger wat glo die baasbrein agter ʼn aantal ontvoerings in Gauteng is.

Die verdagtes staan tereg op onder meer die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie (Foto: SAPS)

“Die polisie het op die perseel op altesaam R6 miljoen se kontant afgekom en daarop beslag gelê. Dié kontant is glo losprysgeld wat betaal is vir ander ontvoerings.”

Daar is verder beslag gelê op ʼn ongelisensieerde AK47-geweer, ammunisie, ʼn gekaapte Volkswagen Polo – wat tydens die ontvoering van die sakeman gebruik is – seinblokkeerders asook verskeie stelle nommerplate.

Die ses verdagtes wat in hegtenis geneem is, staan tereg op aanklag van ontvoering, afpersing, geldwassery, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie asook die besit van ʼn gekaapte motorvoertuig.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die multidissiplinêre taakspan geloof vir hul toewyding om die sakeman ongedeerd op te spoor.

In ʼn afsonderlike ondervoeringsaak is vier burgers van Bangladesj in Betrams, Gauteng, gered nadat hulle verlede Donderdag in Musina, Limpopo, ontvoer is. Twee Ethiopiese burgers is in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Maroela Media het ook vroeër berig oor nóg ʼn sakeman van Vereeniging wat aan die begin van die maand ontvoer is. Die man is ure later ongedeerd gered. Twee buitelanders en ʼn Suid-Afrikaner is in verband met die ontvoering in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

domheks ·

Buitelanders floreer hier is SA. Nog nooit eers R6 miljoen kon spaar en eerlike werk verrig nie!

Chantel ·

Vra maar net, gaan daai groot som geld wel in aanhouding geplaas word?

Skappie ·

Hierdie mense moet eintlik teruggestuur word, vanwaar hulle afkom, en daar moet hulle vasgevang en gestraf word. En moet glad nie toestemming kry om ooit weer Suid-Afrika toe te kom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.