Ontvoerde sakeman: Polisie sê oor losprys-bewerings

Liyaqat Parker (Foto: Verskaf)

Die polisie sê bewerings dat Liyaqat Parker, die 65-jarige Kaapse sakeman wat vroeër dié week by sy onderneming ontvoer is, se ontvoerders ʼn losprys van miljoene in Bitcoin eis, is ongegrond.

Dít kom ná gerugte in die media dat Parker se ontvoerders vroeër met sy familie kontak gemaak het en nagenoeg R50 miljoen in dié kriptogeldeenheid as losprys geëis het.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, sê die polisie dra geen kennis van só ʼn eis nie. “ʼn Ondersoek na Parker se verdwyning duur steeds voort en die polisie sou beslis daarvan geweet het as daar ʼn losprys van die familie geëis is. Ons kan geen sulke bewerings bevestig nie,” sê hy.

Walid Brown, ʼn Kaapstadse prokureur wat die familie as woordvoerder aangestel het, sê op navraag van Maroela Media daar is sover sy kennis strek nog geen verwikkelinge in die ondersoek na Parker se verdwyning nie.

Brown sê die familie is steeds in die duister oor die raaiselagtige omstandighede waarin hulle geliefde verdwyn het en hoop dat hy veilig sal kan terugkeer huis toe.

Parker is vroeër die week glo deur vyf onbekende verdagtes by sy sakeonderneming in De Greens in Parow ontvoer. Die verdagtes het die 65-jarige in die parkeergebied oorval en hom in hul voertuig ingeboender en weggery.

Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om met enige inligting na vore te kom wat die polisie in sy ondersoek kan bystaan. Kontak konst. Chesron de Vries by 082 493 8472.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

Ja, beslis veral as jy welaf is en ‘n paar paspoorte besit… maar die oom lyk vir my nie ouer as 30 nie.

Ekke ·

Kannie verstaan hoe kan hul se hys oorval en in die voertuig geboender as hy nie daar is om te vertel nie.

CC ·

Al gehoor van CCTV en ooggetuies? Net soos wat hul n moord kan uitplaas oor wat gebeur het.

SjN ·

Moontlik n transaksie wat skeef geloop het en hul pond vleis kom eis het. Hoop maar ek is verkeerd en dat hy gevind word.

Kola ·

Hoe het die polisie uitgevind hy is in die kar ingeboender, vra ‘Ekke’. Maklik, hulle het die veiligheidswag wat oorrompel en vasgebind is gevra(lees berig van ontvoering op 9/7/18).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.