
ʼn Skermgreep uit die video wat in Julie 2017 uitgereik is as bewys dat die Suid-Afrikaner Stephen McGown, wat al sedert 2011 in Mali gyselaar gehou word deur Al-Kaïda, nog leef.
Stephen McGown, die Suid-Afrikaner wat byna ses jaar lank deur Al-Kaïda-militante in Timboektoe, Mali, gevange gehou is, is vrygelaat.
McGown is op 25 November 2011 in Timboektoe gevange geneem. Maite Nkoana-Mashabane, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Donderdag bevestig McGown is op 29 Julie vrygelaat.
Nkoana-Mashabane was egter vaag oor hoe presies McGown se vrylating bewerkstellig is.
“Die familie, die regering en al die mense van Suid-Afrika het sedert [McGown gevangene geneem is] geveg vir sy vrylating. Ons is bly om aan te kondig dat hierdie poging uiteindelik gelei het tot sy vrylating op 29 Julie 2017,” het sy gesê. Sy het beklemtoon dat die Suid-Afrikaanse regering nie lospryse vir gyselaars betaal nie.

Die Suid-Afrikaner Stephen McGown wat al sedert 2011 in Mali gyselaar gehou word deur Al-Kaïda (Skermgreep uit ‘n vorige video wat vrygestel is as bewys dat hy nog leef)
McGown se vrylating kom net meer as ʼn maand nadat sy mede-gevangene, die Sweed Johan Gustafsson, vrygelaat is. Gustafsson het ná sy vrylating McGown se familie besoek om hulle mee te deel dat McGown steeds lewe en gesond is.
Aan die begin van Julie het ʼn groep wat bande met Al-Kaïda het, ʼn video uitgereik as bewys dat ses gyselaars, onder wie McGown, nog leef.
McGown se vrylating kom egter te laat om sy ma, Beverly McGown, te groet. Sy is op 27 Mei in ʼn hospitaal oorlede. Imtiaz Sooliman, hoof van Gift of the Givers, het destyds gesê Beverly het jare lank elke dag gehoop dat Stephen vrygelaat sal word en dat sy hom vir oulaas sou kon sien voordat sy sterf.
Beverly het jare lank aan ʼn longsiekte gely en sy was die afgelope tyd in en uit die hospitaal namate sy al verder agteruitgegaan het. “Die angs en hartseer om vir haar seun se vrylating te wag het beslis ʼn impak op haar gesondheid gehad, daar is geen twyfel daaroor nie,” het Sooliman gesê.
Lees alle vorige berigte oor Stephen McGown op Maroela Media.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
28 Kommentare
nogsteeds veiliger daar gewees as in SA.
Fantastiese nuus
So bly vir hom en sy familie!
Dit is wonderlik!! 6 jaar is ‘n baie lang tyd!
Dit was so onnodig. Ek dink ons is almal met bly en verlig oor sy vrylating. Die net jammer dat sy ma intussen oorlede is. Is die ander 5 gyselaars nie ook vrygelaat nie?