Ontvoerde SA’ner se ma ter ruste gelê

Imtiaz Sooliman, hoof van Gift of the Givers, Catherine McGown, Beverley McGown, Malcolm McGown en Mohamed Yehia Dicko, ʼn onderhandelaar van Mali. Die foto is op 14 Mei 2016 geneem. Foto: Gift of the Givers

Stephen McGown, die Suid-Afrikaner wat al langer as vyf jaar deur Al-Kaïda-militante in Timboektoe, Mali, gevange gehou word, se ma word vandag in Johannesburg ter ruste gelê.

Beverly McGown is Saterdagaand in ʼn hospitaal dood. Imtiaz Sooliman, hoof van Gift of the Givers, het gesê Beverly het die afgelope paar jaar elke dag gehoop dat Stephen vrygelaat sal word en dat sy hom vir oulaas sou kon sien voordat sy sterf. Dit het egter nie gebeur nie.

Volgens Sooliman het Beverly jare lank aan ʼn longsiekte gely en was sy die afgelope tyd in en uit die hospitaal namate sy al verder agteruitgegaan het. “Die angs en hartseer om vir haar seun se vrylating te wag het beslis ʼn impak op haar gesondheid gehad, daar is geen twyfel daaroor nie,” het Sooliman gesê.

Sooliman het in ʼn verklaring kort ná Beverly se dood gesê sy het in “waardige pyn” gewag op haar seun se terugkeer. “Ons het die hartseer in haar oë gesien. Ons het haar gefaal; my hart bloei vir haar. Gift of the Givers het alles menslik moontlik probeer doen om Stephen huis toe te bring, maar was tot op hede nog nie suksesvol nie. Ons hoop en bid dat ons hom met een of ander wonderwerk daar sal uitkry. Ons het nie hoop opgegee nie. Ons probeer teen alle verwagting en sal onverpoosd aanhou.”

Maroela Media het vroeër berig Stephen en ʼn man van Swede, Johan Gustafsson, is op 25 November 2011 in Timboektoe gevange geneem. Verskeie pogings is sedertdien aangewend om die twee mans se vrylating te bewerkstellig, maar dit was tot dusver nog onsuksesvol.

Die Suid-Afrikaner Stephen McGown wat al sedert 2011 in Mali gyselaar gehou word deur Al-Kaïda (Skermgreep uit ‘n video wat vroeër vrygestel is as bewys dat hy nog leef)

Gift of the Givers is in Junie 2015 deur die families aangestel om te probeer om die twee mans uit Mali te red. Die organisasie het sedertdien ʼn onderhandelaar van Mali, Mohamed Yehia Dicko, na verskeie streke gestuur om met mense te praat wat hulle kan bystaan in hul pogings. Volgens Gift of the Givers het Dicko agt keer die streke besoek en meer as 100 dae en duisende kilometers gereis op soek na ʼn deurbraak.

Die organisasie het later twee mense gevind wat ervaring het met onderhandelinge met Al-Kaïda wat ingestem het om die families se versoek aan hulle voor te lê. Terselfdertyd het die organisasie humanitêre dienste verrig om stam- en godsdienstige leiers in die streek se guns te wen. Dit het daartoe gelei dat die losprys van 20 miljoen euro na 8,5 miljoen euro verminder is – ʼn bedrag wat nie een van die families kan bekostig nie.

Gift of the Givers het verlede maand gesê sy laaste hoop is om ʼn opregte beroep op die emir van Katar te doen om in te gryp. Die emir was vantevore al verskeie kere suksesvol in sy poging om te onderhandel vir die vrylating van gyselaars op versoek van verskillende regerings.

Sooliman het egter Vrydag aan Maroela Media gesê die organisasie is tans besig met ʼn nuwe manier om die twee mans se vrylating te bewerkstellig. Hy het nie onmiddellik meer besonderhede gegee nie.

ʼn Gedenkdiens vir Beverly sal om 10:30 by die Rosebank Union-kerk gehou word.

Lees alle vorige berigte oor Stephen McGown op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

trojaan ·

heleen as S A aan terroriste se eise toegee en lospryse betaal, gaan ons binnekirt 80% inkomstebelasting betaal. SA is die land van geleentheid en met al ons entrepreneurs sal díé dairy gou gou up and running wees.

trojaan ·

heleen as S A aan terroriste se eise toegee en lospryse betaal, gaan ons binnekirt 80% inkomstebelasting betaal. SA is die land van geleentheid en met al ons entrepreneurs sal díé dairy gou gou up and running wees.

Annette Stander ·

Mnr Sooliman jy en jou span is uitsonderlike mense. Baie dankie vir die opofferings wat julle al gemaak het en nog steeds maak. Dit gaan nie ongesiena verby nie. Julle het al heelwat lewens gered maar daar gaan tye wees wat julle nie suksesvol sal wees nie. Geen redelike persoon sal julle daarvoor verkwalik nie. Hou aan met julle onbaatsigtige diens wat julle lewer.

John ·

Mense wat in die vreemde rykdom wil gaan soek, moet besef hulle gaan eerder met minder terugkom as met meer… Groot fantome oor nervana en hartseer is dikwels bedmaats. As hulle met skatte terugkom is die vriende baie, maar as hulle vasval….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.