Ontvoerde SA’ner steeds in Mali

Stephen McGown en sy vrou Foto: Skermskoot uit die ENCA-video

Stephen McGown en sy vrou Foto: Skermskoot uit die ENCA-video

Gift of the Givers het Donderdag in ʼn verklaring gesê hulle hoop om kontak te maak met die persone wat die Suid-Afrikaner, Stephen McGown, gyselaar hou.

“Enige bystand wat enige persoon, plaaslik of internasionaal, kan bied, is van waarde,” het Imtiaz Sooliman, hoof van die liefdadigheidsorganisasie, gesê.

McGown is op 25 November 2011 in Timboektoe deur Al-Kaïda ontvoer. Klik hier om meer te lees.

ʼn Nuwe video het onlangs aan die lig gekom. “As mens na die inhoud van die video kyk, wil dit voorkom of dit in April 2015 verfilm is,” het Sooliman gesê.

Volgens hom het die organisasie ingestem om die McGown-gesin by te staan om Stephen se vrylating te verseker. “Dit is algemeen bekend dat sukses nie altyd gewaarborg is nie. Dit was ʼn baie moeilike drie jaar en sewe maande vir dié gesin,” het hy bygevoeg. “ʼn Daadwerklike poging word aangewend om met McGown se ontvoerders kontak te maak.”

Volgens Sooliman weet die familie tot vandag toe nie wie die ware ontvoerders is, wat die eise is, waar Stephen aangehou word of hoe om met hulle te kommunikeer nie. “Ons beleef dieselfde probleme as die gesin, maar het nou stelsel in plek geplaas om kontak met die ontvoerders te bewerkstellig.”

Stephen se pa, Malcolm, het in Februarie 2014 met die organisasie in verbinding getree nadat hulle Yolande Korkie se vrylating verseker het. Malcolm het egter aan Sooliman die versekering gegee dat hulle nie die organisasie se aandag wou aftrek in die tyd wat hulle Pierre Korkie se vrylating onderhandel het nie.

“Elf maande later en kort ná die tragiese voorval op 6 Desember 2014 waartydens Pierre gesterf het, het ek weer met Malcolm in verbinding getree om vir hom te sê dat ons kantoorbestuurder van Johannesburg op pad is na Mauritanië,” het Sooliman verduidelik. “Hy was baie opgewonde, maar daar was hartseer in sy stem. Hy het gesê sy vrou is baie siek en gebruik ʼn suurstoftenk en sou Stephen baie graag wou sien. ʼn Paar dae later het sy egter van die bed afgeval, en haar heup gebreek. Sy moes na die hospitaal gehaas word. Hoe kon ons hulle nie help nie?!”

Volgens Sooliman is Mauritanië die deurgang vir hulle organisasie na Mali, aangesien hulle nie enige kontakte in Mali het nie.

Hy het gesê hulle het die afgelope 12 uur vergaderings met geestelike leiers en stamhoofde gehou en is besig met ander moontlikhede wat ook binnekort aan die publiek bekend gemaak sal word.

“Met hierdie persverklaring versoek ons die ontvoerders om direk met Gift of the Givers kontak te maak namens die McGown-gesin.”

ENCA het die volgende video in Januarie 2014 verfilm:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Hoe kry ons regering Basjir die land uitgesmokkel, maar hulle gee nie ‘n bloue duit om vir ons landsburgers wat as gyselaars in ander lande aangehou word nie? Zuma bewys weer eens hy gee niks om vir sy landsburgers nie!! Hy kon LANKAL met die ontvoerders onderhandel het vir vrylating as hy wou, maar hy stel seker nog minder belang, want dis ‘n BLANKE burger!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.