Ontvoerde Sweed ná vyf jaar in Mali vrygelaat

Margot Wallstrom, Swede se minister van buitelandse sake, voor ʼn foto van die Johan Gustafsson en sy familie kort na sy aankoms by die lughawe. Foto: Marcus Ericsson /TT via AP

ʼn Sweed, Johan Gustafsson, wat byna ses jaar lank saam met die Suid-Afrikaner, Stephen McGown, deur Al-Kaïda-militante in Timboektoe, Mali, gevange gehou is, is vrygelaat.

Gustafsson se vrylating is Maandag deur die Sweedse regering bevestig, maar McGown se lot is nog onbekend.

Margot Wallstrom, Swede se minister van buitelandse sake, het Gustafsson se vrylating aangekondig, maar geen besonderhede verskaf hoe sy vrylating bewerkstellig is nie. Dit is dus nie duidelik of die land die losprys betaal het wat Al-Kaïda geëis het, al dan nie.

Gustafsson (42) is Maandag met ʼn Sweedse regeringsvliegtuig na Stockholm gevlieg, maar het nie voor die media verskyn nie. Wallstrom het kort ná Gustafsson se aankoms in die land gesê hy “is ʼn paar dae gelede vrygelaat”. “Diplomasie en polisiewerk” tesame met sterk internasionale samewerking het volgens haar tot sy vrylating gelei.

“Die Sweedse regering se beleid is om geen losprys vir ontvoerings te betaal nie,” het Wallstrom gesê, maar geweier om spesifieke vrae oor Gustafsson se geval te beantwoord.

Die Suid-Afrikaner Stephen McGown wat al sedert 2011 in Mali gyselaar gehou word deur Al-Kaïda (Skermgreep uit ‘n video wat vroeër vrygestel is as bewys dat hy nog leef)

Intussen is daar nog geen aanduiding of McGown ook binnekort vrygelaat sal word nie. Maroela Media het vroeër berig McGown en Gustafsson is op 25 November 2011 in Timboektoe gevange geneem. Wallstrom het Maandag gesê Gustafsson is die slagoffer wat die langste gevange gehou is in die eietydse geskiedenis van Swede.

Gift of the Givers, Suid-Afrika se rampverligtingsorganisasie wat deur McGown se familie aangestel is om sy vrylating te bewerkstellig, het vroeër vandeesmaand gesê die organisasie ondersoek ʼn nuwe manier om die mans se vrylating te verseker, maar hulle wou nie meer besonderhede hieroor gee nie. Die organisasie het gesê hulle kon sedert die mans gevange geneem is daarin slaag om die losprys van 20 miljoen euro na 8,5 miljoen euro te laat verlaag, maar dit is steeds ʼn bedrag wat nie een van die twee mans se families kan bekostig nie.

In Mei het Gift of the Givers gesê McGown se laaste hoop is om ʼn opregte beroep op die emir van Katar te doen om in te gryp. Die emir was vantevore al verskeie kere suksesvol in sy poging om te onderhandel vir die vrylating van gyselaars op versoek van verskillende regerings.

Lees alle vorige berigte oor Stephen McGown op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Friesperd ·

Sê net weer? “Losprys vir ONTSNAPPINGS”? Maak seker sin want dis geldmors.

Houtoog ·

Stem saam met jou dat die sin nie sin maak nie. Indien jy ontsnap het dan is jy mos reeds vry.

Lyla ·

Asseblief laat nou vir Stephen McGown ook vry! Daai arme man en sy familie! Here, U ken my. Ek bid dat Stephen McGown veilig vrygelaat sal word want U is ‘n God van genade en liefde. Verander hulle droefnis in blydskap asseblief Here. Dankie my Vader.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.