Ontvoerde vermoor ná familie losprys betaal

Johnathan Eloho Okinedo is Saterdag ontvoer en Woensdag dood gevind. (Foto: Rusa/Facebook)

ʼn Nigeriese man wat die naweek ontvoer is, is Woensdag in die bosse in Newlands in KwaZulu-Natal dood gevind. Sy familie het twee keer ʼn losprys betaal. Hy is egter nie een van die kere vrygelaat nie en is eindelik met ʼn skietwond aan die kop aangetref.

Reaction Unit South Africa (Rusa) sê Johnathan Eloho Okinedo (ongeveer 40) se vrou en broer het vroeër vandeesweek by die nooddiens se hoofkantoor om hulp aangeklop nadat Okinedo Saterdag deur onbekende verdagtes ontvoer is.

Okinedo, ook bekend as Jojo, werk as ʼn tegnikus van DStv en is die betrokke oggend na die Senzokwethu Sekondêre Skool in Ntunzuma om ʼn kliënt te ontmoet wat ʼn dekodeerder wou laat installeer. Die kliënt het vroeër die oggend gebel en ʼn tegnikus versoek.

Sy familie het later die dag ʼn oproep van sy selfoon ontvang. Okinedo het hulle meegedeel dat hy teen sy wil aangehou word en dat sy ontvoerders R2 000 vir sy vrylating eis.

Die gesin het die bedrag tot R500 afgestry en die geld is per eWallet na ʼn selfoonnommer oorgeplaas wat die ontvoerders verskaf het.

Okinedo is toegelaat om ʼn paar minute met sy familie te praat voordat die oproep afgesny is. Albei selfone is daarna afgeskakel en Okinedo is nooit vrygelaat nie.

Die ontvoerders het Sondagoggend wéér gebel – dié keer van ʼn ander selfoonnommer om ʼn losprys van R5 000 te eis.

Die familie het verduidelik dat hulle nie daardie bedrag per eWallet sal kan oordra nie en daar is eindelik ooreengekom dat hulle R1 500 sou oorplaas. Die selfoon is wéér afgeskakel nadat die ontvoerders die losprys ontvang het en Okinedo is nie vrygelaat nie.

Dit was die laaste keer dat sy familie van hom voor sy dood gehoor het.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, sê aan Maroela Media twee liggame is Woensdagmiddag in die bosse in Riverdene in Newlands gevind.

Die mans het langs ʼn wit voertuig gelê. Albei het skietwonde gehad. Die een liggaam is later as die ontvoerde Okinedo geïdentifiseer. Die tweede slagoffer se identiteit is nog onbekend, sê Mbele.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en ontvoering.

Rusa sê Okinedo het in 2015 vanaf die Delta-staat in Nigerië na Suid-Afrika verhuis. Hy het ten tyde van sy dood tydelik in Amouti in KwaZulu-Natal gewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Miskruier ·

Hierdie ontvoerings moet onmiddelik gestop word maar dit sal seker eers gebeur as die ministers se familie ontvoer word.

Tipper ·

Hy moes maar liewer daar oorkant gebly het,ver van jou huis naby jou skade.

Elinette ·

Het hy “verhuis” vanuit die Delta-staat in Nigerië, of het hy blatant oor die grens INGESLUIP????

Samuel ·

Moord, ontvoering, verkragtings is aan die orde van die dag. Die polisiediens het lankal die stryd verloor.

Misky ·

Hierdie oortreders is desperaat en soek nou al “kleingeld” en sal nie skroom om te moor nie, want hulle weet daar is nie nagevolge nie. Baie tragies!!!!

Shakespeare ·

Zenofobia ?? Mal-emma jy moet jou boeties beter beskerm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.