Ontvoerde vrou by padblokkade gered

Argieffoto: Kent Williamson

Lede van die KwaZulu-Natalse polisie se eenheid vir openbare orde het vandeesweek ʼn vrou wat na bewering ontvoer is om in ʼn onwillige huwelik ingedwing te word by ʼn padblokkade gered.

Die voorval het Woensdag by die R74 Emmaus-afrit naby Bergville gebeur toe ʼn silwer Renault voorgekeer is.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het gesê daar was vier mans en een vrou in die motor. “Die 18-jarige vrou het op die agterste sitplek tussen die mans gesit. Die polisiebeamptes kon sien sy is ontsteld,” het Mbhele gesê.

Volgens Mbhele het die polisie opdrag gegee dat al die mense uit die motor klim en is die vrou apart van die mans ondervra.

“Sy het vir die polisie vertel dat sy die dag by haar sussie in Maphumulo naby Kranskop gekuier het toe die verdagtes haar genader en haar in die motor ingedwing het. Dit was glo sodat sy met een van die verdagtes kon trou,” het Mbhele gesê.

Volgens Mbhele is die vier mans, onderskeidelik 28, 37, 38 en 42 jaar oud, op die plek in hegtenis geneem vir ontvoering.

Die verdagtes het vandeesweek in die Bergville-landdroshof verskyn.

Genl.maj. Bheki Langa, die provinsiale waarnemende polisiekommissaris, het die parate beamptes gelukgewens met hul vinnige optrede om die vrou te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Cherokee ·

Hulle verdien die gelukwensing maar wat nie duidelik is nie, is of dit ‘n algemene padblokade was en of opgestel om haar te red.

Maak dit saak ·

Maak dit regtig saak, al wat saak maak is die feit dat die Polisie n vrou gered het. Mag dit n aanmoediging vir ander Polisie beamptes wees.

Elna ·

Wat ‘n noue ontkoming! Baie dankie vir die Kwa-Zulu Polisie vir vinnige optrede!

PJC ·

Defnitief was dit haar gelukkige dag. Kan net dink wat sy alles sou verduur in die gedwonge huwelik. Dit is egter ń ding wat nog miljoene vroue wêreldwyd se lot is veral onder sekere geloofsgroepe en skynbaar is almal bang om iets in die openbaar hieroor te sê.

Lien ·

Maphumulo (met ‘n p) is ‘n dorpie tussen Kranskop en Stanger in KZN. Weet nie of dit die plek is waarna verwys word nie.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Lien
Dankie vir jou valkoog! Die regte spelwyse is inderdaad “Maphumulo”. Die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Hans ·

Goed gedoen polisie. Wys daar is tog nog wat vir hulself kan dink en oplet in die klas.

Meer en meer en . . . ·

Meer en meer en meer en meer padblokkades regoor die land!
Vertoef net so 30 tot 40 min op een plek en skuif dan. Dit sal ‘n klomp onwettige bedrywe stopsit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.