Ontvoerders eis bitcoin vir seun (13) se vrylating

Kathlego Marite (Foto verskaf deur die SAPD)

Die ontvoerders van die tienerseun van Witbank in Mpumalanga wat Sondagmiddag ontvoer is, het ʼn losprys in bitcoin vir sy vrylating geëis.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat Kathlego Marite (13) se ouers ʼn eis van die ontvoerders ontvang het dat ʼn sekere aantal bitcoin-eenhede in ʼn spesifieke rekening inbetaal moet word voordat hul seun vrygelaat sal word.

Volgens mediaberigte eis die ontvoerders 15 bitcoin wat gelykstaande is aan ongeveer R1,48 miljoen. Hlathi wou egter nie die presiese bedrag van die losprys bevestig nie en het gesê die ondersoek is tans in ʼn sensitiewe stadium. Hy wou ook nie bevestig of die polisie tans besig is om met die ontvoerders te onderhandel of enige verdere inligting oor die ondersoek bekendmaak nie.

eNCA berig Kathlego se ouers was nie eens bewus van die bitcoin-kriptogeldeenheid nie totdat die losprys geëis is.

Maroela Media het vroeër berig Kathlego het Sondag omstreeks 15:30 saam met twee maats in Frangipanistraat in Tasbetpark, Witbank, gespeel. “ʼn Goudkleurige Toyota Corolla met drie insittendes het langs die seuns stilgehou. Een van die mans, in swart geklee en met ʼn groen baadjie, het die slagoffer gegryp en met hom weggery,” het die polisie vroeër gesê.

Kathlego se vriende het na sy ma toe gehardloop en vertel wat gebeur het. Sy het die voorval dadelik by die polisie aangemeld en ʼn saak van ontvoering is aanhangig gemaak.

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om kapt. Africa Nyathi te bel by 071 352 6007.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

tamboti ·

Elektroniese geldeenhede wat anoniem en onspeurbaar is, is geld vir misdaad! Verban dit!
As jy wettig geld het moet jy rekenskap daarvan kan gee / as jy wettige werk doen sal jy wettige geld daarvoor ontvang.
Anoniem is konkelwerk.

Antoinette ·

Ek hoop en bid hy word ongedeerd gevind. Hy lyk na ‘n oulike kind. Waarom moet kinders die slagoffers wees van grootmense se gierigheid . Die arme ouers weet nie eers wat Bitcoins is nie. Ek weet net daarvan, ek weet nie eers regtig wat dit is nie – en ek het Universiteitsopleiding!

jaco ·

Toe ‘n wit kind onlangs ontvoer is, het die polisie dadelik die R6miljoen losprys betaal en op dié manier die ontvoerders gevang. Waarom doen hulle dan nou niks nie? Die ontvoerde kind is dan een van hulle ras? Iets maak nie sin nie.

Alida ·

Die bankrekening moet tog in iemand se naam wees. Hulle ryg jou derms uit voor die rekening geaktiveer word. Ai ai. Die polisie kan mos met die bank reel om dadelik die transaksie op hou te sit of redeneer ek soos my ore.

Marius ·

Die hele punt van Bitcoin is dat dit nie deur ‘n bankrekening werk nie.

tamboti ·

Knapie nee, jy vergeet, kontant het reeksnommers – dit kan gevolg word en as bewys dien.

Frikkie ·

Ek hoop en bid dat dit n’ slap riem is waarby die hele gesin en familie betrokke is en af maak as opregte ontvoering ens! Ek hoop die outjie word ongedeerd gevind en dat wie ook-al skuldig is aan wat-ookal, sal boet daarvoor.

madels ·

Dankie Here die seun is nog lewend. Ek bid dat die kriminele VINNIG gevind sal word met die kind nog lewend en veilig terug besorg aan sy ouers. Daai arme kind moet deur soveel vrees gaan. My hart huil vir hom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.