Ontvoerders eis losprys van R30 000 op WhatsApp

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie is steeds op soek na ʼn 21-jarige vrou van Johannesburg nadat sy glo Vrydag ontvoer is.

Ao. Kay Makhubela, ʼn polisiewoordvoerder, het Maandag gesê die vrou van Vlakfontein, suid van Johannesburg, is glo gyselaar geneem.

“Sy het die oggend vroeg haar huis verlaat om werk te gaan soek,” het Makhubela gesê. “Haar ouma het omstreeks 17:45 ʼn WhatsApp-boodskap ontvang wat sê sy moet R30 000 kontant in 24 uur gereed kry, anders gaan sy haar kleinkind nooit weer sien nie.”

Die boodskap het ook inligting verskaf oor waar die geld afgelaai moet word. Die ouma het die voorval by die Lenasia-polisiestasie aangemeld.

“Die polisie het die plek opgespoor vanwaar die boodskap gestuur is. Die vermeende ontvoerders was nie in die omgewing nie. Hulle was ook nie by die plek waar die groep gesê het die geld afgelaai moet word nie.”

Sy was nog teen Maandagoggend vermis. Die polisie ondersoek ʼn saak van ontvoering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.