Ontvoerders gedy in die Oos-Kaap

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplashed)

Meer as tien mense word weekliks in die Oos-Kaap ontvoer. Byna die helfte van dié slagoffers word aangerand, verkrag of selfs vermoor.

Só het Weziwe Tikana-Gxothiwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Oos-Kaap, in antwoord op ʼn vraag in die provinsiale wetgewer gesê.

Volgens die LUR se syfers is 514 mense tussen April 2021 en Januarie vanjaar in die Oos-Kaap ontvoer. Dit is 20% meer as die 423 mense wat in dieselfde tydperk ʼn jaar tevore ontvoer is. Uit die 514 mense wat ontvoer is, is 146 aangerand of gemartel, 60 is verkrag en vier vermoor. Altesaam 66 kinders was die slagoffer van ontvoerders, teenoor die 60 wat in die vorige jaar ontvoer is.

“Wat veral kommerwekkend is, is dat Nelson Mandelabaai skynbaar ʼn brandpunt vir ontvoerings geword het,” het Bobby Stevenson, DA-lid in die provinsiale wetgewer, die afgelope week gesê.

Vier uit die tien polisiestasies waar die meeste ontvoerings in die provinsie aangemeld is, is in dié metro geleë. Dié polisiestasies is Mount Road, Motherwell, Kwazakele en New Brighton. ʼn Kwart van die gevalle in die provinsie is by dié polisiestasies aangemeld.

Maroela Media het vroeër berig omtrent ʼn jong man in die Oos-Kaap wat kort voor Kersfees ontvoer en op Nuwejaarsdag vrygelaat is. Hy is erg aangerand en gemartel voordat sy ontvoerders hom vrygelaat het. ʼn Losprys van R5 miljoen is van sy familie geëis.

Stevenson sê dit is veral skandalig dat net 219 inhegtenisnemings in dié sake gemaak is. Slegs 48 mense is die afgelope boekjaar suksesvol vervolg.

Stevenson sê in Nelson Mandelabaai moet geld wat opsygesit is vir die opgradering van CCTV-kameras onmiddellik aangewend word sodat dié kriminele geïdentifiseer en behoorlik gestraf kan word.

Hoewel dié syfers skokkend is, is Gauteng en KwaZulu-Natal egter die twee provinsies wat verreweg die meeste ontvoerings aanmeld. Volgens die polisie se amptelike misdaadsyfers is 1 200 ontvoerings in Gauteng en 491 in KwaZulu-Natal net in die maande Oktober tot Desember verlede jaar uitgevoer. Die polisiestasies waar die meeste ontvoerings landwyd aangemeld word, is ook oorwegend in dié twee provinsies gesetel.

Meeste van die ontvoerings landwyd het met kapings gepaardgegaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

As jy kyk na die gebrek van kommentaar dan kom hierdie onheilspellende besef dat misdaad in watter vorm ookal, die norm is in SA vandag

Swerwer ·

Wie moet ons bedank?………………………………die ANC niemand anders nie. Wettelose ANC kultuur.

Gert ·

En as jy jou teesit en die kapers uitwis want hulle kom uiteraard met wapens gaan die slagoffers tronk toe vir ander wat moeilikheid kom soek het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.