Ontvoerdes uit huis in Delmas gered

Die polisie het Sondag ʼn klopjag in Delmas uitgevoer en vyf ontvoerde Bangladesjiese burgers gered. (Foto: SAPD)

Die polisie het Sondag ʼn klopjag op ’n huis in John Vorsterstraat in Delmas, Mpumalanga, uitgevoer en vyf ontvoerde Bangladesjiese burgers gered.

Vier verdagtes is op aanklag van mensehandel, ontvoering en die onwettige besit van vuurwapens in hegtenis geneem en sal binnekort in die Delmas-landdroshof verskyn.

Lt.kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê die slagoffers, almal tussen 20 en 37, is na bewering onwettig deur Mosambiek na Suid-Afrika gesmokkel en vir 17 dae in ʼn huis toegesluit.

Netshiunda sê die klopjag is Sondag in samewerking met die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad, nasionale misdaadintelligensie, die polisie se lugvleuel in Johannesburg, die Johannesburg-metropolisie se K9-eenheid en private veiligheidsmaatskappye uitgevoer.

“ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagtes ʼn losprys van die slagoffers se families geëis het.

“Die polisie het ook tydens die klopjag op drie tuisgemaakte vuurwapens afgekom.”

Dit is nie duidelik of die families van die slagoffers wel enige losprys betaal het of hoeveel geld die vermeende ontvoerders geëis het nie.

Items waarop die polisie tydens ’n klopjag in Delmas beslaggelê het. (Foto: SADP)

Die polisie in Mbombela het glo ook verlede week twee Pakistanse slagoffers uit ʼn huis in dié omgewing gered. Dié slagoffers is glo deur Malawi en Mosambiek die land ingesmokkel en ook na bewering vir ʼn losprys aangehou. Die familie van een van die slagoffers het glo ʼn onbekende bedrag geld vir hul geliefde se vrylating oorgeplaas.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die vermeende mensehandelaar het ná ʼn hoëspoedjaagtog op 13 Januarie in Valencia die polisie ontwyk en is steeds op vrye voet. Die voertuig waarin hy gevlug het, is egter in die polisie se besit nadat dit in die parkeerterrein van die iLanga-winkelsentrum agtergelaat en opgespoor is. Dié verdagte is glo ʼn sakeman in die Schoemansdal-omgewing.

ʼn Pakistanse man, wat glo onwettig in die land is, is wel by die betrokke huis in hegtenis geneem waar hy glo wag gestaan het.

Lt.genl. Semakaleng Manamela, provinsiale polisiekommissaris, sê meer maatreëls is getref om die skielike toename in ontvoerings te stuit. Sy het egter nie oor dié maatreëls uitgewei nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

Hoe kom die “onwettige ontvoerders” in die eerste plek die land in en HOE word hierdie mense oor die grenseposte gesmokkel? Begin ondersoek by die korrupte spul wat op die grensposte werk. Hierdie land is deurtrek van miljoene “onwettige” immigrante wat die land se kriminele rekords die hoogtes in laat skiet.

Swerwer ·

Delmas? Die Rustige ou dorpie, boere gemeenskap is nou ook deur die ANC geinfiltreer. Hoe jammer.

Kokerboom ·

Ons land word besmet deur hope onwettige Pakistanies wat land binnekom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.