Ontvoering tydens kaping ál meer algemeen

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn Kleuter is die afgelope naweek blitsvinnig teruggekry nadat hy tydens ʼn kaping ontvoer is. Kenners sê dié soort ontvoerings is algemeen en neem tans toe in Suid-Afrika.

Alles is egter nie verlore nie, aangesien daar ʼn aantal stappe is wat Suid-Afrikaners kan doen om nie ʼn ontvoeringslagoffer te word nie.

Warren Myers, uitvoerende hoof van die veiligheids- en mediesereaksieplatform AURA, sê misdaadstatistieke wat onlangs deur die polisie vrygestel is, skets ʼn donker prentjie – veral wanneer dit kom by ontvoerings.

Tussen Oktober en Desember verlede jaar is 2 605 ontvoeringsgevalle by die polisie aangemeld – dit is 686 meer gevalle as gedurende dieselfde tydperk in 2020.

Die laaste vier maande van verlede jaar het ook die hoogste aantal aangemelde ontvoerings in vyf jaar opgelewer.

Terwyl ontvoerings vir ʼn losprys al hoe meer algemeen word met hoëprofielmense uit ʼn welvarende agtergrond wat geteiken word, meen Myers dat die meeste ontvoeringsake steeds verband hou met kapings en die doel om te roof.

“Meer as 60% van ontvoerings, spesifiek in Gauteng, vind plaas tydens kapings. Dikwels word hierdie slagoffers na kitsbanke geneem om geld te onttrek, wat ook as ontvoering beskou word,” sê hy.

In die jongste gevalle is ʼn tweejarige kind in die Wes-Kaap ontvoer nadat ʼn motor waarin hy gesit het, gekaap is. Hoewel die kleuter binne ʼn uur teruggevind is en hy ongedeerd van die voorval afgekom het, is talle ander slagoffers nie so gelukkig nie.

Ontvoerings vir losprys

Volgens Yusuf Abramjee, teenmisdaadaktivis, word ontvoerings vir ʼn losprys al hoe meer algemeen met invloedryke of welvarende families wat veral geteiken word – soos in die onlangse Moti-broers-sage.

“Ontvoering vir ʼn losprys word deur groot, gespesialiseerde sindikate bedryf, wat enigiets tussen R500 000 en R20 miljoen kan eis,” sê Abramjee.

“Hierdie bendes besef dat baie minder moeite nodig is om ʼn ontvoering te vermag as ander groot misdade. Al wat nodig is, is ʼn foon en ʼn bietjie kennis oor die slagoffer – en ʼn reusagtige prys kan geëis word om hul veiligheid te verseker.

“Diegene wat hierdie soort misdade pleeg, is opportunisties en teiken sake- en hoëprofielmense uit ʼn ryk agtergrond. Nadat hulle ʼn slagoffer gekies het, hou hulle die slagoffer vir ʼn paar weke dop, gryp hulle en eis ʼn losprys.”

Die Moti-broers is verlede jaar in raaiselagtige omstandighede aan hul ouers terugbesorg en gerugte het kort daarna die ronde gedoen dat ʼn reuselosprys vir hul vrylating betaal is. Hierdie gerugte kon egter nog nie bevestig word nie.

Beskerm jou en jou kinders

Myers en Abramjee sê daar is ʼn paar praktiese stappe wat gedoen kan word om te verhoed dat jy die slagoffer van ʼn ontvoering word.

  • Moenie spoggerige juweliersware of horlosies dra terwyl jy in die openbaar is nie.
  • Wees te alle tye ten volle bewus van jou omgewing, veral wanneer jy jou tuiste nader. Wees op die uitkyk vir enige ongewone motors of mense wat ronddwaal en meld enige verdagte gedrag by owerhede aan.
  • Vermy misdaadbrandpunte en gebiede waar jy maklik van jou geliefdes geskei kan word.
  • Sluit aan by ʼn veiligheidsnetwerk of -maatskappy waarop jy kan staatmaak in ʼn tyd van nood of laai ʼn veiligheidsapp op jou foon wat ook ʼn paniekknoppie het.
  • Verander jou roetine gereeld. Verander die tye wat jy die huis verlaat en terugkeer en vermy dit om elke dag dieselfde roetes te gebruik.
  • Leer jou kinders oor misdaad. Gee hulle opdrag om jou dadelik te bel as iets nie pluis is nie of as daar ʼn onverwagte verandering in planne is. Sê vir hulle om nie saam met vreemdelinge in motors te klim nie en oorweeg ʼn wagwoordstelsel waar die persoon wat hulle afhaal ʼn wagwoord moet gee – as hulle nie kan nie, kan jou kind dadelik om hulp roep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Dis ‘n wrede wêreld. Om veilig te wees moet jy jou huis soos ‘n tronk maak en nooit daar uitgaan nie.

E ·

Ja hoe leer jy jou kind om veilig te wees, sonder om hulle in angsvolle kinders te verander nie. Kinders moet vry en gelukkig kan groot word. In elk geval het ek my kinders ‘n paar ander taktieke ook geleer. Selfs in omgewings waar hulle nie meer gelukkig is met die mense om hulle nie.

Janc ·

Okay so hulle slaan jou venster uit en druk ‘n vuurwapen teen jou kop en beveel jou om uit jou motor te klim. In daai oomblik wat jy jou kind wil losgordel (spesifiek ‘n baba) dreig hulle om jou en jou gesin in die motor dood te skiet….Klap jou bietjie rond, slaan jou met die agterkant van die vuurwapen grond toe as jy enige iets wil probeer. Hoe leer jy jou baba om van so iets te ontsnap? Hoe leer jy ‘n baba om homself los te maak? Jy kan hoe bewus wees van jou omgewing maar meeste gevalle was daar niemand in sig voor so iets plaas gevind het nie en binne sekondes bevind jy jouself in hierdie situasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.