Ontvoerings met losprys-eise aan die toeneem

ontvoering-npc-op-twitter-2018-01-18

‘n Paneel van misdaadkenners het Donderdag die media oor die toename van ontvoerings met ‘n eis vir ‘n losprys toegespreek. Foto: Nasionale Persklub/Twitter

Ontvoerings met ʼn eis vir ʼn losprys is nie ’n algemene misdaad in Suid-Afrika nie, maar is beslis aan die toeneem.

Dit blyk ook dat veral Indiër sakemanne, asook Pakistani’s, Bangladesjers, Chinese en Zimbabwiërs die teikens van die plaaslike ontvoeringsindikate is.

Yusuf Abramjee, ʼn teenmisdaad-aktivis en hoof van die #MakeSASafe-inisiatief, het gesê hy het in die laaste 24 maande met ongeveer 15 gevalle van hierdie tipe ontvoerings te doen gehad. Die sakemanne word buite hulle winkels ontvoer en ʼn reusebedrag word as losprys van die families geëis. In drie van die ontvoeringsgevalle waar hy die familie bygestaan het, het die ontvoerders altesaam met R15 miljoen buitgemaak.

Hy was deel van ʼn paneel misdaadkenners wat Donderdag tydens ʼn mediakonferensie van die Nasionale Persklub in Pretoria die toename van die ontvoerings van sakemense bespreek het.

Doktor-kolonel Ernst Strydom, hoof van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se eenheid vir gyselaaronderhandelaars, het bevestig die polisie neem met kommer kennis van die toename in dié soort ontvoerings waar ʼn losprys geëis word. Die kenners meen dat sindikate en georganiseerde misdaad hierby betrokke is en dat hierdie tipe misdadigers self internasionale misdaadsbande het.

Dié misdaad is opnuut onder die loep geplaas nadat Omar Carrim (76) ʼn sakeman van Pretoria in Augustus ontvoer is. Maroela Media het Desember berig dat Carrim ná 137 dae weer met sy gesin herenig is.

Abramjee het gesê talle van hierdie tipe ontvoerings word egter nie by die polisie aangemeld nie. “Die ontvoerders dreig dikwels die gesin en familielede en sê hulle sal die ontvoerde leed aandoen as die polisie by die saak betrek word. Ander voel weer skuldig en wil eenvoudig nie die saak aanmeld nie.”

Alhoewel die werklike getalle van die ontvoeringsvoorvalle nie bevestig kan word nie omdat die SAPD nie spesifieke statistiek hieroor byhou nie, het Abramjee gesê hy glo vas georganiseerde misdaadsindikate is by die ontvoerings betrokke. “Daar is ook egter onervare ontvoerders wat die misdaadsindikate se modus operandi naboots. Albei die groepe is ewe gevaarlik. Hulle is beslis nie idiote nie en weet hoe om tegnologie te gebruik om hulle misdaad uit te voer of die langarm van die gereg te ontduik.”

Abramjee het ook bygevoeg daar bestaan tans ʼn sterk vermoede dat ʼn misdaadsindikaat van Mosambiek, wat onlangs in dié land oopgevlek is, by plaaslike ontvoerings betrokke kan wees.

Dr. Chris de Kock, ʼn onafhanklike misdaadontleder en voormalige kommissaris van die SAPD, meen daar word meer misdaadintelligensie by die SAPD benodig om hierdie tipe misdaad te bekamp. Abramjee het die nood erken en gesê die polisie is bewus van die leemte.

De Kock het bygevoeg ʼn beter kategorisering van misdaad in Suid-Afrika sal baie vir misdaadbekamping kan doen. “ʼn Groot gedeelte van misdaad in die land is sosiale misdaad wat gepleeg word deur mense wat mekaar ken, maar dit sal baie help as ons ʼn kategorie het vir iets soos plaasmoorde of ontvoerings van sakemense met die doel om ʼn losprys te bekom.”

Abramjee en Andy Mashaile, Interpol se ambassadeur vir TurnBackCrime, het ook gesê hulle sal aanhou pleit by die polisiekommissaris en minister van polisie vir die herinstelling van spesialiseenhede wat hulle kan toespits op die bekamping van spesialismisdaad soos ontvoering en dwelms. Daar is al talle beloftes gemaak om die spesialiseenhede weer in te stel, maar dit blyk dat hierdie eenhede net nie weer heeltemal op die been gekry kan word nie.

“Destydse eenhede soos moord-en-roof was effektief, wat jy ook al van die eenheid gedink het, dit het gewerk,” het Abramjee gesê.

Hy is al gedreig omdat hy die families van ontvoerders bygestaan het, maar het gesê hy vrees nie tans vir sy lewe nie. “ʼn Mens kan nie vir misdadigers terugstaan nie. Niks sal my stop om my stem te lug oor misdaad en die kriminaliteit in Suid-Afrika nie.”

Hy het gemeenskappe aangemoedig om enige inligting oor misdaadsindikate of verdagte aktiwiteit in hulle omgewing aan te meld. “Hierdie sindikate voer hulle misdaad uit in plekke waar mense woon en werk. Iemand moet iets weet of raaksien. Selfs die kleinste stukkie inligting kan help om hulle vas te trek.”

Abramjee het ook verduidelik wat om te doen indien ʼn familielid ontvoer word:

  • Moenie huiwer om die ontvoering dadelik by jou plaaslike polisiestasie aan te meld nie. Indien die polisiestasie jou nie wil help nie, meld dit by ʼn ander polisiestasie aan of gaan na ʼn hoër vlak van die polisie of skakel een van die polisie se nasionale noodnommers om dit aan te meld.
  • Neem alle oproepe met die ontvoerders op.
  • Moenie enige inligting oor die ontvoering op sosiale media plaas, of direk met die media oor die ontvoering gesels nie. “Die ontvoerders waardeer gewoonlik nie enige vorm van publisiteit nie en sal nie skroom om hulle slagoffer seer te maak of selfs te vermoor as hulle paniekerig raak nie.”
  • Stel ʼn verslag vir ʼn vermiste persoon saam. Dit kan versprei word, maar moenie sê die persoon is ontvoer of die besonderhede van die losprys verskaf in die verslag nie.
  • Ontvoerings kan ook by privaat organisasies of nie-regeringsorganisasies aangemeld word indien jy dalk nie die polisie vertrou nie, maar kry hulp. “Kry ʼn kenner betrokke, moenie die situasie self probeer hanteer nie, selfs al word jy gedreig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Net gister ‘n dokumentêr oor ontvoerings vir lospryse op Netflix gekyk en gewonder… Hoe lank voor die tendens in S.A ontketen word want kriminele het mos ‘n vry sê / vry doen in hierdie land! Geen of minimale nagevolge! WORD WAKKER ANC

Schalk van der Merwe ·

Daar is nie ‘n rang soos doktor-kolonel nie!! Doktor in sy privaat hoedanigheid, as hy uniform dra is hy ‘n Kolonel.

Hanna ·

Ek weet nogals nie of ek die SAPS sal vertrou in so n situasie nie… Maar dis net my persoonlike opinie. Ek verstaan as familie self met ontvoerders onderhandel. Wens net die buitelandse skelms kan beperk word, want ons het reeds plaaslike skelms in oorvloed!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.