Ontvoeringslagoffer in Nyanga gered

(Argieffoto: Kent Williamson)

ʼn 47-jarige man wat Donderdagoggend in Bellville in die Wes-Kaap beroof en ontvoer is, is gered.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, sê lede van die nasionale intervensie-eenheid, misdaadintelligensie, Bellville-speurders asook lede van die polisie se gyselaaronderhandelingspan het Saterdagaand op ʼn huis in Nyanga toegeslaan waar die slagoffer aangehou is.

Tien verdagtes is in hegtenis geneem.

“Die spesiale operasie is geloods nadat ʼn voorval van roof en menseroof in Bellville aangemeld is. Volgens die polisie se inligting is die slagoffer, ʼn buitelander, Donderdag om 09:50 deur vier gewapende mans in Voortrekkerweg oorval en van ʼn beduidende bedrag geld en ʼn selfoon beroof voordat hy ontvoer is,” sê Potelwa.

Deurslaggewende inligting het tot die adres in Nyanga gelei waar die slagoffer aangetref is.

Die verdagtes is tussen 20 en 30 jaar oud en word van menseroof en gewapende roof aangekla.

Hulle verskyn na verwagting later vandag in die Bellville-landdroshof.

Potelwa sê die slagoffer is intussen met sy gesin herenig.

“Die polisiebestuur het die betrokke polisiebeamptes geloof vir hul werk in die stryd om die vlaag ontvoerings en afdreiging te bekamp,” het sy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kokerboom ·

Laat hul harde arbeid doen teen basiese vergoeding om hul uit kwaad te hou. Werkloosheid moet bekamp word deur werksprojekte gefinansier deur nuttelose oorbetaalde kabinetslede/parlementslede. Tong in die kies voorstel

FM ·

Dis so positief.

Verdubbel hierdie heerlike nuus en weier borg en sluit almal toe. Dis nie ver van die see af nie. Gooi daardie sluitel in die sout water wat dit mooi sal bewaar.

Maak groot nuus dat die boodskap GEHOOR word.

LANA is ELANè ·

Hierdie boewe is so selfgesentreerd en het nie ‘n benul wat die tipe gedrag op die ekonomie het nie. Maar ja, ek het vergeet “die sulkes” se insig rondom ekonomiese welvaart is tot die eie ek beperk en nie ‘n greintjie verder as dit nie ~ hulle moor die toerisme van die Wes Kaap net verder uit met hulle rampokker gedrag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.