Ontwikkelingsbank se geld nie vir ‘sinkende staatsinstellings’

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die vakbond Uasa sê geld van die staatsbeheerde Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa) moes glad nie gebruik word om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), wat reeds jare lank onder ʼn kontantvloeiprobleem gebuk gaan, te red nie.

Die sukkelende lugdiens is in Desember in sakeredding geplaas. Dinsdag het die sakereddingspraktisyns aangekondig Obsa gaan R3,5 miljard aan die SAL verskaf om die lugredery weer op sy voete te help. Daar was ʼn onmiddellike onttrekking van R2 miljard.

Die regering het vroeër ʼn reddingsboei van R2 miljard beloof, maar kon die geld vir nóg ʼn hulppakket sedertdien nie bymekaar skraap nie.

Stanford Mazhindu, Uasa-woordvoerder, het gesê die vakbond is “teleurgesteld” in die sakereddingsproses omdat dit gelei het na net “nog geld wat gestort word in die swart gat wat die redery geword het”.

Die geld wat gebruik word om die nasionale lugdiens weereens uit die moeilikheid te probeer hou, gaan boonop nie teruggekry word nie, het hy gewaarsku.

“Dit is skokkend dat die staatsbeheerde Obsa ingestem het om geld beskikbaar te stel om die SAL in die lug te hou, terwyl hy – in sy eie woorde – verantwoordelik is vir infrastruktuurontwikkeling van lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG),” het Mazhindu gesê.

Alf Lees, DA-lid van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) in die Nasionale Vergadering, het vroeër ook die Obsa-besluit gekritiseer en gesê die bank het ʼn ontwikkelingsmandaat wat nié insluit om ʼn mislukte staatsonderneming soos die SAL te probeer staande hou nie.

Uasa glo die geld moes eerder gebruik word om hospitale te bou, of verbeteringe aan te bring aan bestaande hospitale of infrastruktuur soos paaie.

“Die bank is verantwoordelik vir beplanning, projekvoorbereiding, finansiering en die implementering van ontwikkelingsprojekte, nie vir die befondsing van mislukkende staatsbeheerde ondernemings nie,” het Mazhindu gesê.

“Die SAL het reeds digby R16,5 miljard in reddingsboeie die afgelope tien jaar by die Suid-Afrikaanse belastingbetaler gekry. Dit is sonder twyfel baie duidelik dat nóg geld vir die lugredery geen verskil gaan maak nie tensy ingrypende stappe by die SAL gedoen word wat betref bedryf en bestuur.”

Kort ná die nuus oor die jongste reddingsboei bekend gemaak is, het die lugredery SA Express gesê hy hoop van die geld wat die SAL hom skuld, word nou terugbetaal.

SA Express het Woensdag gesê hy sukkel al die afgelope twee maande om sy geld uit die redery te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Stefan ·

Nog ‘n paar biljoen in die water gegooi, net genoeg om laatste hoër as inflasie verhogings te betaal, terugwerkend nogal!
Vir die regte noodsaaklikhede soos gesondheid en onderwys is daar geen geld nie.
Wat gaat an mense, hoe stop mens dit?
Selfs die anc stemvee kry nie ‘n sent hiervan nie want plakkers vlieg nie.

henndrik ·

Dit moes nie gebeur het nie, die belastingbetalers kan nie meer nie

SomeOne ·

maak die sal so gou moontlik toe, alle “mense” van bo tot onder, ons kan nie aanhou om geld in daai swart gat te gooi nie

Susan ·

LOL, SA Express wat se SAL skuld hulle geld?
SA Express skuld SAL miljoene rande :-).
Hulle moet bietjie wakker skrik!

Michiel ·

Strukturele oplossing: eksterne territoriale selfbeskking. Eie land eie fysieke grens, eie werk,geleentheid. Geen ANC-regime, geen Malema. Ons bestuur dinge soos ons dit goed vind.

So ‘n Republiek, al is dit maar ‘n teedoekie so klein soos Swaziland, ons kan dit maak werk!

#capeparty #capexit

Niné ·

Ek is letterlik bewoedend. So baie ander gate kon met die geld toegestop word. Nou soen ons dit ook koebaai.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.