Onveranderde rentekoers verwelkom

(Foto: Maroela Media)

ʼn Besluit van die Reserwebank se monetêre beleidskomitee om die rentekoers onveranderd op 3,5% te laat, is verwelkom.

Lesetja Kganyago, president van die bank, sê die besluit was eenparig.

Hy sê inflasie gaan na verwagting vanjaar in bedwang gehou word, terwyl dit na verwagting in volgende jaar en 2023 na die middelste vlak van die inflasieteiken sal styg.

Kganyago sê monetêre beleid is steeds akkommoderend en die finansiële toestande wat die vraag na krediet steun terwyl die ekonomie ná die Covid-19-pandemie en die verwante inperkingstyd herstel, word behou.

Rentekoersverhogings kan wel later in die vooruitsig wees.

“Die geïmpliseerde roete van die beleidskoers van die kwartaallikse vooruitskattingsmodel dui op ʼn styging van 25 basispunte in 2021 se tweede en vierde kwartale onderskeidelik. In vergelyking met die vorige vergadering, is die skuif in die roetekoers van die derde na die vierde kwartaal weens die effens laer inflasie vir 2022.”

Kganyago sê ekonomiese en finansiële toestande gaan na verwagting nog geruime tyd onstuimig bly.

Hy sê wêreldwyd bly voedselinflasie hoog, maar in Suid-Afrika is dit effens laer as wat vantevore verwag is en dit behoort in bedwang te bly. Die prys van olie het die afgelope jaar skerp gestyg en gaan na verwagting op dié vlakke bly.

Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa, sê die vakbond verwelkom die besluit. Hulle het wel gehoop op ʼn rentekoersverlaging omdat dit meer besteebare geld in Suid-Afrikaners se sakke sou sit.

Moyo sê die verwagte rentekoersverhogings later vanjaar gaan nie in die belang van die ekonomie wees nie, veral omdat werkloosheid steeds toeneem en die land nog nie van die inperkingstyd herstel het nie.

“Met moontlike rentekoersverhogings op hande, moet werkers die kans gebruik om behoorlike besluite oor hul huishoudelike finansies te neem soos om skuld af te betaal en alles moontlik te spaar tot die ekonomie weer behoorlik aan die gang is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

quartus ·

Ek dink dit moes verder verlaag gewees het sodat mense makliker eiendom kan koop. Ek het n huis wat ek wil verkoop.

Danie ·

Dit gaan baie wyer as net oor mense wat huise wil verkoop.
Net een voorbeeld, daar is mense wat van n rente inkomste moet leef en n redelike hoë rentekoers is n goeie beleggingsinstrument met al sy voordele vir die ekonomie.
En regtig, indien iemand nie n goeie huis kan koop teen die huidige rentekoerse nie kan hy maar los.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.